Update
GRAAFF-REINET NUUS - Die gemeenskap van Sunnyside, Graaff-Reinet, is bekommerd oor hul veiligheid nadat inwoners na bewering op Maandag 29 Maart aangeval is. Eiendom is glo ook in die voorval beskadig.
Garick Koetaan, die beskuldigde in die moord op die 19-jarige Junade Faulkner, ‘n eerstejaarstudent aan die East Cape Midlands College, wat op 8 Februarie doodgeskiet is, het op die dag van die beweerde Sunnyside-aanvalle in die hof verskyn.
Ná bewering het sommige van die mense wat tydens die hofsitting buite betoog het, die middag vir Garick Koetaan gaan soek om wraak te neem. Die Koetaan-woning se deure is glo afgetrap en onwettig betree, iemand in die huis is glo aangerand en ‘n voertuig is glo ook beskadig.
Volgens lede van die gemeenskap wat verkies om anoniem te bly, is die huise van twee van die Koetaans se bure ook tydens die voorval onwettig betree en die inwoners, twee vroue en ‘n baba, se lewens is glo in gevaar gestel.
Tydens die insident het ‘n bejaarde vrou van die gemeenskap en ‘n man en sy seun van Kroonvale, wat toevallig aan een van die bure se warmwatertoestel gewerk het, gesien wat gebeur het en tot by die Koetaans se woning gegaan om te probeer keer. Die seun is toe na bewering deur een van die oproeriges met ‘n mes in die rug gesteek.
Gemeenskapslede van Sunnyside is dit eens dat Faulkner se moord nie ligtelik opgeneem word nie en hulle wil dit duidelik maak dat hulle simpatie het met die slagoffer se familie.
Hulle beklemtoon egter die feit dat dié gemeenskap een met baie hegte bande is en dat hulle daarom nie kan toekyk hoe inwoners aangeval en seergemaak word nie.
Hulle reik uit na diegene wat probeer om reg in eie hande te neem met die pleidooi dat maniere gevind moet word om te verseker dat die reg sy gang gaan sonder verdere geweld.
Gemeenskapslede voel ook dat die polisie en speurders hulle gefaal het. Hulle verkies om so min as moontlik hieroor in die media bekend te maak, maar noem wel dat hulle beoog om verdere stappe in hierdie verband te neem.
Die Sunnyside-gemeenskap vra dat die groter Graaff-Reinet gemeenskap hulle moet vergewis van die omstandighede rondom hierdie sensitiewe saak.
Ernstige versoek word gerig aan lede van die Sunnyside- en groter Graaff-Reinet-gemeenskap, wat bande met die betrokke mense van Jeffreysbaai het, om hulle te weerhou van verdere aanhitsing en die verspreiding van inligting wat die veiligheid van onskuldige mense in die gemeenskap in gevaar kan stel.
Vorige artikels:
- Faulkner se familie geskok oor borgtog
- Accused in student's murder granted bail
- Vermoorde studnet se familie sê gerugte volslae leuens
- New EC Midlands student murdered
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'