Update
GRAAFF-REINET NUUS -Na 'n dringende beroep twee weke gelede om Graaff-Reinet se helipad van ondergang te red, het die dorp se sakelui en wyksraadslid Joy Williams dadelik ingespring om te help.
Die gehawende toestand van die helipad het onder die vergrootglas gekom toe ‘n AMS-reddingshelikopter daar moes land om ‘n 15-jarige seun te hulp te snel wat weens sy kritieke toestand vanaf Graaff-Reinet na die Livingstone hospitaal in Gqeberha gevlieg moes word.
Graaff-Reinet Advertiser en Samantha Graham-Maré, DA LP en kiesafdelingsleier van die Dr Beyers Naudé-gebied, het toe ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om by te dra tot die opknapping van die helipad.
Williams en die dorp se sakelui het nie op hulle laat wag nie.
Arthur Langley, eienaar van Mr Maintenance, het onmiddellik sy werkers beskikbaar gestel om die helipad skoon te maak terwyl die munisipaliteit, op versoek van Williams, die gras rondom die helipad gesny het.
Ongelukkig het die munisipale span ook 'n paar bome in die slag laat bly.
Jacques Wagener, plaaslike hoof van patalogie, het egter later genoem dat die bome se nare lot darem een ligpuntjie meegebring het - nou kan hy sien wat in die gedeelte tussen die lykshuis en die hospitaal aangaan. Volgens hom bied die bouvallige huise rondom die helipad nog genoeg beskutting teen die wind wanneer helikopters land.
Henlein Bertram, eienaar van isuRommel, het gereël dat die vullis verwyder word, terwyl Le Clue Basson en Geoff Crewe-Brown, namens die Christelike Mannegroep, gehelp het met koördinering.
Hulle het veral gefokus op die spuit van onkruid deur Rocco Erasmus om te verseker dat die onkruid langtermyn uitgeroei word. Esias Cronje, eienaar van Car-Mon Bakery, het gehelp met die verkryging van die verf, geborg deur Mr Paint, asook die arbeidskoste.
Twee werkers van Mr Maintenance het Dinsdag die helipad se sirkels en H te verf. So, nou dat die sirkel en die H geverf word, is dit nog net die windkous wat kort en Hi-Q het reeds aangebied om te help om die flenterkous te vervang.
Indien hulle dit dalk nie in die hande kry nie, sal Dave Neill van Radium een laat maak.
Graaff-Reinet se inwoners is die sakelui, individue en raadslid wat ingespring het om die helipad te red, ewig dankbaar.
Vorige artikels:
- Graaff-Reinet se helipad het hulp nodig
- Rubriek: Reusereaksie laat noodligte flikker
- Kind per heli na Gqeberha na erge aanranding
- Tienerseun wat aangerand is steeds kritiek
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'