Update
GRAAFF-REINET NUUS - Die vonnis wat 'n voormalige munisipale bestuurder van die Dr. Beyers Naudé-munisipaleit, in 2017 in die Oudtshoorn-streekhof opgelê is, is op 7 Februarie in die Kaapse Hooggeregshof van vyf jaar tot twee jaar verminder nadat die skuldigbevinding op drie van vyf klagtes ter syde gestel is.
Martin Noël Pietersen, wat as munisipale bestuurder by die Oudtshoorn-munisipaliteit gewerk het voor hy as munisipale bestuurder van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit in Graaff-Reinet aangestel is, het hom tot die Hooggeregshof gewend nadat hy in 2016 deur streeklanddros Marilyn Cannon skuldig bevind is aan vyf aanklagte van die oortreding van die munisipale finansiële bestuurswet en in 2017 tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis is.
Landdros Cannon het bevind dat Pietersen in 2010, nadat hy heraangestel is as munisipale bestuurder van Oudtshoorn, sy posisie misbruik het toe hy 'n konsultasiefirma, IBR, aangestel het tot voordeel van homself of/en 'n ander person, Ian Kenned, eienaar van IBR.
Meer as R2 miljoen is tussen Oktober 2010 en Junie 2011 aan Kenned se IBR uitbetaal.
Hy is ook daaraan skuldig bevind dat hy gefaal het om sy pligte as rekenpligtige amptenaar na te kom, deur nie die nodige stappe te neem om nuttelose en vrugtelose uitgawes te verhoed nie asook om die nodige stappe te neem dat die munisipale voorsieningsketting beleid geïplimenteer en op 'n regverdige, deursigtige, kompeterende en koste effektiewe wyse toegepas word.
Die Hooggeregshof het egter op 7 Februarie die skuldigbevinding op drie van vyf klagtes ter syde gestel en die twee orige klagtes oor die wettigheid en dringendheid van 'n kontrak saamgeneem vir 'n nuwe vonnis.
Die Hooggeregshof het ook bevind dat die spandering op die betrokke kontrak waarde vir geld was en het dus die staat se weergawe van buitensporige hoë koste, verwerp.
Pietersen het egter dié week te kenne gegee dat hy aansoek gaan doen om ook teen dié twee-jaar vonnisoplegging van die Hooggeregshof te appélleer.
Pietersen en sy regsverteenwoordiger, Adv Jerome van der Schyff, is van mening dat die regters 'n fout begaan het en die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie, juis omdat sý getuienis die enigste ware weergawe was in die streekhof op Oudtshoorn, en dat daar geen getuienis voor die hof was wat dit weerspreek het nie.
Die landdros het volgens hulle foutiewelik afleidings gemaak wat nie deur die staat bewys kon word nie en daarom het die Hooggeregshof sy getuienis in hoof wat totaal deur die landdros verwerp is, erken en aanvaar.
Volgens Pietersen het die regters nou bevind dat hy nie grof nalatig was nie, en in die beste belang van die gemeenskap en met suiwer bedoelings opgetree het om die Oudtshoorn-munisipaliteit reg te ruk. "Die Oudtshoorn-munisipaliteit was tien jaar terug amper op die grond en ek het tot die redding gekom."
Oor afwykings, sê Pietersen dat dit nie gedoen is sonder die finansiële bestuurder van destyds, Keith Jordaan en top bestuur nie, want hy het agt maande saamgewerk en het toestemming gegee vir die Art. 36 Afwyking van die MFMA regulasies en betalings goedgekeur saam met al die ander bestuurders wat magtiging het om betalings goed te keur en te maak.
Volgens hom het Jordaan nie die waarheid in die hof gepraat nie.
"Ek het die bepalings van die munisipale finansiêle bestuurswet (MFMA) streng nagekom en wil weet waarom ek skuldig bevind is.
"Hoe kan iemand skuldig wees en tronkstraf kry wanneer die uitvoerende gesag en die raad as oorsigoutoriteit die kontrak en die spandering op die kontrak in terme van Art. 32 van die MFMA kondoneer en die raad alle openbaarmaking verklaar en nagekom het en wanneer die eksterne oorsig outoriteit, die ouditeur generaal geen nadelige of negatiewe bevinding maak oor enige afwyking van die wet insluitende IBR. Dit maak die kontrak en betaling daarop wettig."
"Dit is waarom ons die uitspraak oor die wettigheid van die kontrak met IBR op hersiening neem want jy kan nie bevind dat die spandering van die R2 miljoen reg was maar die kontrak onwettig."
"Die stryd om geregtigheid gaan voort en ons gaan nou na die Appélhof in Bloemfontein." sê Pietersen.
"Ek het geen geld in my sak gesteek of bedrog gepleeg nie, en ook nie die Oudtshoorn-munisipaliteit se geld verkwis nie, daarom is die drie klagtes in my guns bevind."
Hy het sy dank uitgespreek teenoor die mense van Oudtshoorn, Suid- en Oos-Kaap wat hom ondersteun.
Lees 'n vorige artikel hier: Oud-munisipale bestuurder moet twee jaar tronk toe
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'