GRAAFF-REINET NUUS - Die vonnis wat ‘n voormalige munisipale bestuurder van die Dr. Beyers Naudé-munisipaleit, in 2017 in die Oudtshoorn-streekhof opgelê is, is in die Kaapse Hooggeregshof van vyf jaar tot twee jaar verminder nadat die skuldigbevinding op drie van vyf klagtes ter syde gestel is.
Martin Noël Pietersen, wat as munisipale bestuurder by die Oudtshoorn-munisipaliteit gewerk het voor hy as munisipale bestuurder van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit in Graaff-Reinet aangestel is, het hom tot die Hooggeregshof gewend nadat hy in 2016 deur streeklanddros Marilyn Cannon skuldig bevind is aan vyf aanklagte van die oortreding van die munisipale finansiële bestuurswet en in 2017 tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis is.
Die hooggeregshof het die vonnis van vyf jaar nou ter syde gestel en dit vervang met ‘n vonnis van twee jaar gevangenisstraf ten opsigte van twee klagtes wat saamgeneem word as een vir die doel van vonnis.
Landdros Cannon het bevind dat Pietersen in 2010, nadat hy heraangestel is as munisipale bestuurder van Oudtshoorn, sy posisie misbruik het toe hy ‘n konsultasiefirma, IBR, aangestel het tot voordeel van homself of/en ‘n ander person, Ian Kenned, eienaar van IBR.
Meer as R2 miljoen is tussen Oktober 2010 en Junie 2011 aan Kenned se IBR uitbetaal.
Hy is ook daaraan skuldig bevind dat hy gefaal het om sy pligte as rekenpligtige amptenaar na te kom, deur nie die nodige stappe te neem om nuttelose en vrugtelose uitgawes te verhoed nie asook om die nodige stappe te neem dat die munisipale voorsieningsketting beleid geïplimenteer en op ‘n regverdige, deursigtige, kompeterende en koste effektiewe wyse toegepas word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'