Update Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Nadat daar ‘n beroep op die gemeenskap gedoen is om by te dra tot die opknapping van Graaff-Reinet se gehawende helipad, het die munisipaliteit en privaat besighede ingespring om die nodige werk gedoen te kry.
Mr Maintenance se werkers is tans besig om die helipad skoon te maak terwyl die munisipale werkers die gras rondom die helipad sny.
Ongelukkig het die munisipale werkers die bome langs die helipad wat as windbeskutting gedien het afgesaag. Jacques Wagner, plaaslike hoof van patalogie, is van mening dat dit ‘n redelike groot probleem is. Sy versoek is dat die takke so gou moontlik verwyder moet word omdat die helipad nou baie gereeld gebruik word – sedert 26 Januarie 2023, toe die toestand van die helipad onder die vergrootglas gekom het, was daar al altesaam vyf reddingslandings. Die Graaff-Reinet Advertiser het ook pas inligting ontvang dat die reddingshelikopter nou weer op pad is om 'n pasiënt met 'n kopbesering te kom oppik.
Mr Maintenance het onderneem om die hele helipad skoon te maak en ook die sirkel rondom en die H oor te verf.
Mr Paint en Build it het die wit verf waarmee dit geverf moet word geskenk en Carmon Bakery het bygedra tot die koste van die arbeid. Sodra die werkers klaar skoongemaak het sal isuRommel al die vullis kom oplaai en wegry na die stortingsterrein. Dit blyk dus dat die helipad binnekort in ‘n baie beter toestand sal wees.
Volgens Wagener sal dit fantasties wees indien die helipad se teerblad ook ‘n bietjie aandag kan kry. Hy noem dat dit nie nodig is om dit heeltemal oor te teer nie - die bestaande teerblad kan net opgeknap word.
Video - Helipad word na omgesien
Die bome aan die kant van die helipad wat as windbeskutting gedien het, het ongelukkig in die slag gebly
Die bome aan die kant van die helipad het ongelukkig in die slag gebly. Foto's: Chriszanne Janse van Vuuren
Vorige artikels:
- Rubriek: Reusereaksie laat noodligte flikker
- Kind per heli na Gqeberha na erge aanranding
- Tienerseun wat aangerand is steeds kritiek
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'