Update
GRAAFF-REINET NUUS - Graaff-Reinet-museum (GRM) het onlangs 'n trotse tweede plek in 'n uitstallingskompetisie ter viering van die 2023 Internasionale Museumdag (IMD) in Makanda behaal.
IMD het ten doel om bewustheid te kweek oor die belangrikheid van museums as instellings van kulturele uitruiling, verryking van kulture en bevordering van wedersydse begrip en samewerking.
Dit word al vir die afgelope 46 jaar gevier, maar vanjaar se uitstallingskompetisie was 'n eerste.
Voorheen het dit hoofsaaklik rondom 'n opstelkompetisie vir leerders gesentreer.
GRM se spekboomuitstalling het groot belangstelling en lof vanaf beoordelaars en toeskouers ontlok. "Ons uitstalling het beslis aan die 2023 IMD tema, Museums, Sustainability and Well-Being, voldoen," sê Anziske Kayster, bestuurder van GRM.
Daar is 58 museums in die Oos-Kaap waarvan 20 provinsiaal ondersteun word. Die 20 provinsiaal ondersteunde museums het aan die kompetisie deelgeneem.
GRM se pryse sluit in 'n skootrekenaar, 'n advertensiebord en 'n reis na Nedersakse in Duitsland.
Denise van Wyk is aangewys om die museum in Duitsland te verteenwoordig en sal verskeie wersksessies daar bywoon. Van Wyk is al sedert 2003 by die museum werksaam en beklee die pos as hoof hulpdiensbeampte.
Die spekboomuitstalling sal permanent by die Urquhart House gehuisves word om die historiese spekboomtuin wat in die vorm van die Union Jack-vlag geplant is aan te vul.
Vorige artikel: Graaff-Reinet museum excels in museum day competition
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’