Update
GRAAFF-REINET - Parsonage Street Home, 'n tehuis vir bejaardes, spog die jaar met drie inwoners wat 100 jaar oud is.
Die jongste van die drie, Cooks Marais, het op 23 Junie haar 100ste-herdenking gevier. Issie Theron het in Februarie verjaar en Joey van Wyk in April.
Marais het in 2018 in Parsonage Street Home gaan woon. Sy is in 1922 in Graaff-Reinet gebore en is die oudste dogter van Alphonso en Jacoba Enslin. Sy het vier susters waarvan drie nog leef. Haar pa het op Waterkrans geboer.
Volgens Marais se dogter, Enslie Erasmus, het sy aanvanklik by 'n plaasskool op Ribboksfontein skoolgegaan en het in standard 3 (gr. 5) by Volkskool aangesluit waar sy haar skoolloopbaan voltooi het. Sy het op daardie stadium by haar ouma gewoon.
Cooks het haar B.Sc.-graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en haar verpleegopleiding in Pretoria en Kimberley gedoen. Sy het privaat verpleging in Graaff-Reinet gedoen en het as vroedvrou gehelp om heelwat babas in die wêreld te bring.
Sy is in 1952 met John Marais, 'n boer van Klipplaat in die Richmond-distrik, getroud en hulle het drie kinders gehad. John is in 2000 oorlede.
Volgens Erasmus was haar ma 'n regte Karoo-boervrou.
"Sy het die huishouding behartig, my pa moed ingepraat as die droogte te erg word en hanslammers en kinders grootgemaak. Die hoenders, groente- en vrugtetuin was haar verantwoordelikheid. Sy het self ons klere en ook haar eie botter gemaak. Sy was 'n bobaas bakker en het die lekkerste kos gekook. Sy het ook blomme rangskik en graag gemeenskapswerk in Richmond gedoen."
Volgens haar het haar ouers, na haar pa se aftrede, weer in Graaff-Reinet gaan woon.
Sy het ook agt kleinkinders en agt agterkleinkinders. Hulle is in vyf verskil-lende lande, uitgesluit Suid-Afrika, woonagtig.
Volgens Ria Pretorius, bestuurder van die tehuis, is Van Wyk en Theron al van universiteit af vriende.
"Dit is ongelooflik om die drie van hulle te beleef. Hulle het nog soveel gees. Hulle sê nooit nee vir 'n wyntjie nie en help ook nog graag met raad in die kombuis. Hulle is skool toe met donkiekarre en het so 'n klomp eerstes beleef - die eerste kar, eerste televisie, eerste telefoon. Hulle vermaak ons gereeld met hulle interessante stories."
Pretorius sê die drie goue oues is werklik "merkwaardige vroue".
"Tannie Cooks werk so lekker met die selfoon en stuur self WhatsApps. Haar kamer is altyd vol blomme. Al drie van hulle het nog hul passies wat hulle uitleef en dit is so mooi om te beleef."
Cooks Marais saam met haar familie tydens haar verjaarsdag.
Cooks Marais
Vorige artikel: Drie van tehuis vier 100ste
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'