KAROO NUUS - Gedurende Operasie Paseka oor die Paasnaweek in die Chris Hani-distrik, is 3 714 voertuie afgetrek en deursoek, terwyl 3 076 mense deursoek is.
Boetes ter waarde van R290 800 vir verskeie oortredings is uitgereik.
Twee verdagtes is gearresteer vir die besit van gesteelde eiendom, waaronder 'n TV, klerasie, 'n skootrekenaar, skoene en 'n tuisteaterstelsel met luidsprekers.
Twee arrestasies is ook gemaak vir die onwettige besit van dagga en dwelms en kontant is ook gekonfiskeer.
'n Groot hoeveelheid drank is ook gekonfiskeer en talle boetes is aan drankverskaffers uitgereik. Daar is ook beslag gelê op 'n vuurwapen en ammunisie.
Kommissaris van die Chris Hani-distrik, genl. maj. Rudolph Adolph het sy lede bedank vir hul harde werk en opofferings oor die laaste klompie dae en nagte. Hy het gesê hulle het verseker dat inwoners in sy area veilig kon slaap, en dat elke inwoner die teenwoordigheid van die polisie kon beleef in hul onmiddellike omgewing.
Kapt. Ursula Roelofse van die Chris Hani-distrik se polisie sê veiligheid van inwoners, asook van toeriste en motoriste wat deur die area gereis het, was die Paasnaweek hoë prioriteit.
Die polisie is bygestaan deur die K9-honde-eenheid en publieke orde polisiëringseenheid (Pops) en ondersteun deur plaaslike en provinsiale verkeersdepartemente, die departement van vervoer en Arrive Alive.
Multidissiplinêre padblokkades, sigbare blouligpatrollies en stop-en-deursoekpatrollies is op strategiese punte uitgevoer. Daar is gesoek na onwettige vuurwapens, dwelms en vervalste goedere en padveiligheid was hoog op die lys. Onwettige vervoer van diere was ook onder die polisie se vergrootglas.
Nog 'n fokus was drankmisbruik in publieke areas en drankmisbruik deur bestuurders. Wetstoepassing by drankverskaffers is gemonitor en sokkertoernooie, kerkdienste en begrafnisse is ook deur die polisie besoek.
Vorige artikel: Operasie Paseka hou Saps besig oor Pase
'n Vuurwapen en ammunisie is gekonfiskeer.
Dagga, dwelms en kontant is gekonfiskeer.
Onwettige drankverkope is gestuit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’