Update
ABERDEEN NUUS - Die biologiese ouers van die babalyk wat op die munisipale stortingsterrein buite Aberdeen gevind is, se identiteit is nog onbekend.
‘n Selfaangestelde werker by die terrein het die polisie Woensdag 1 Februarie ontbied nadat sy onverwags op die oorskot van ‘n baba afgekom het.
Die oorskot is gevind in ‘n plastiek-inkopiesak in ‘n swart vullissak.
Die polisie se ondersoek duur voort. Graaff-Reinet Advertiser het vertroulik verneem en bevestig dat die forensiese verslag waarop die polisie gewag het, gister uitgereik is.
Volgens twee afsonderlike betroubare bronne het die baba nie aan natuurlike oorsake gesterf nie.
Aanvanklik is ‘n saak van verskansing van geboorte geopen. Met die uitslag van die forensiese ondersoek bekend, ondersoek die polisie die aangeleentheid verder - met die moontlikheid van ‘n ernstige misdryf nie uitgesluit nie.
Ondersoek van die aangeleentheid word gekompliseer deur verskeie administratiewe, mediese en regstegniese faktore. Op grondvlak het die gemeenskap van Aberdeen self ondersoek begin instel en is daar ‘n sterk vermoede oor die biologiese ouers se identiteit.
Die Aberdeen-polisie maan die gemeenskap om geduldig te wees en die reg sy gang te laat gaan. Die polisie het op navraag bevestig dat hierdie ondersoek as prioriteit hanteer word.
Weens verskeie faktore, onder andere die sensitiwiteit van die aangeleentheid, maak Graaff-Reinet Advertiser op hierdie stadium geen nadere besonderhede bekend nie.
Vorige artikel: Babalykie op stortingsterreine gevind
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'