Update
ABERDEEN NUUS - "Hier kom Simson, kom ons stop hom!" sê ek vir André Marais toe ons Rabie Gericke se kenmerkende rooi Toyota Hilux sien aankom waar ons radeloos langs die pad staan. Daar is 'n massiewe inligtingsbord net buite Aberdeen wat meters die lug in opgehys moet word en die masjien wat op pad is, het onklaar geraak onderweg. Rabie is ook nie links nie en stop – hierdie is Aberdeen, elke pad is 'n potensiële konferensie.
Nie lank nadat Rabie by die 'konferensie' aangesluit het nie, daag Hantie Marx ook op. Die eerste bord moet rigting boontoe begin kry; dit raak Karoo-warm.
Maar die laaigraaf wat moet help, staan aan die anderkant van die dorp - onklaar.
"As ons nou net nog 'n Rabie gehad het!" glimlag André toe Hantie se oë dwaal na Danie Verwey se werkswerf waar 'n trok met 'n hyskraan 'n ent weg staan en luier. Hantie glimlag geheimsinnig en na 'n kort telefoonoproep brul daardie trok in die regte rigting. Kort voor lank is Ignes Verwey as trokbestuurder en kraanoperateur Rabie se verlengde hande – Rabie gee aanwysings en Ignes voer uit tot die aangeduide millimeter. Ná 'n oefenlopie wat asems laat ophou, is Ignes by die kraan op die grond, Rabie in die middel op 'n leer halfpad hemel toe, Fearless en Pokkie weerskante van Rabie, en Boera balanseer die bord van onder af.
In minder as 'n uur se meet en pas klim Pokkie, Plakkies, Fearless, Nickie en Theo behoorlik soos wafferse takelmanne doer bo in die lug en maak die bord vas. Asof hulle nooit daar was nie, verdwyn Rabie en Ignes stilweg. Dis hoe dit gaan in Aberdeen: stop, spring in, help en gaan aan met waarmee jy eintlik besig was.
Met die eerste bord se uitdagings verby, het die tweede bord se oprigting blitsig gegaan. Boera en die span het soos een stel hande gewerk. Die opvallendste: die ses manne is ernstig soos ouderlinge wanneer hulle werk, maar daar is geen breër glimlagte in die wye Karoo wanneer hulle sukses in hulle take smaak nie. Almal koor in een stem: "Dis ons dorp se baadjies dié!"
In 2022 het die Aberdeen Residents and Ratepayers Association (Arrpa) onder voorsitterskap van Hantie Marx besluit om aktief nuwe lewe in die dorp te blaas: "Ons het nie 'n keuse nie, mense. Ons dorp verval onder ons oë! Arrpa moet nou self inspring; Arrpa wil en Arrpa sal!"
In die tweede helfte van die jaar is die Aberdeen Toerisme Assosiasie (ATA) onder die vlerk van Arrpa gestig en die ondervoorsitter, André Marais, het onmiddellik begin werk aan vernuwing van die ingangsborde. Marais het al die voetwerk vir die projek gedoen en plaaslike kundigheid betrek - van die fotograaf, Lize-Marie Jordaan, en die grafiese kunstenaars, Cornelia Cronjé en haar dogter Anja, tot die immer betrokke raadslid, Adriaan van Heerden, vir die nodige toestemmings. Marais, wat grootgeword het in Aberdeen, sê vir hom sal hierdie borde altyd 'n monument van Aberdeners se spontane hulpvaardigheid bly. "Ons is gewone mense wat buitengewone dinge doen."
Vorige artikel: Ingange kry nuwe gesig
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'