GRAAFF-REINET NUUS - Vir vyf weke lank het ek, onbewustelik, om my lewe geveg. Ek kan niks daarvan onthou nie. Dis asof dit nooit gebeur het nie. Tog was ek in 'n kritieke toestande in die hospitaal se hoësorgeenheid aan 'n ventilator gekoppel.
Maar ek het 'n tweede kans gekry en daarvoor is ek ongelooflik dankbaar, vertel Erna Enslin Saterdag by die Vallei van Verlatenheid waar 'n groep vriendinne haar verras het met koffie en kolwyntjies - en 'n 2 km-oggendstappie - om haar terug te verwelkom en haar merkwaardige herstel te vier.
Soos 'n Houdini van ouds het sy die dood vierkantig in die gesig gestaar, maar danksy die ongelooflike ondersteuning en gebede van familie, vriende en onbekendes wêreldwyd, het sy heelhuids ontsnap.
Haar verhaal is een van hoop, maar ook 'n ernstige vermaning dat mense Covid-19 nie moet onderskat nie.
Erna het aan Graaff-Reinet Advertiser gesê sy deel haar storie om besprekings rondom Covid-19 te destigmatiseer. "Slegs deur inligting rondom die virus te deel kan ons verstaan hoe om die verspreiding daarvan te voorkom en dit te behandel."
Erna vertel sy het op 19 November verlede jaar erge hoofpyne ontwikkel en sy was ook vreeslik moeg. "My aanvanklike simptome was soortgelyk aan dié van sinus.
Sy is toe vir Covid-19 getoets en het die volgende dag gehoor sy is positief. "My hoofpyne en die moegheid het die res van die week voortgeduur, maar teen die Saterdag was daar 'n verbetering. " En toe die asemnood. Dit was erg en ek is per ambulans na die Green Acres-hospitaal in Port Elizabeth geneems, wat die enigste beskikbare hospitaal was.
"Aanvanklik was daar nie plek in die hoësorgeenheid nie en moes ek in ongevalle aan 'n noodventilator gekoppel word. Gelukkig kon hulle my die volgende dag na die Covid-hoësorgeenheid oorplaas.
"Toe volg die groot onbekende - daai vyf bedenklike weke waar my gesondheid wipplank gery het en ek onder swaar verdowing was. Ek kan niks daarvan in herinnering roep nie.
"In dié donker tyd is my skoonpa en my eie pa oorlede en kon ek ook nie ons huweliksherdenking of Kersfees saam vier nie."
"My man, Riaan, het 'n WhatsApp-groep gestig om familie en vriende op hoogte te hou van my toestand. Dié boodskappe is deur vriende aan hulle vriende en familie gestuur en so is dit reg deur die wêreld versprei. So is een groot wêreldwye gebedsketting gevorm."
Op 1 Desember moes die dokters 'n trageotomie uitvoer om die suurstoftoevoer en haar asemhaling te verbeter. Dié proses is op 10 Desember herhaal omdat die pypie in haar longe verstop geraak het.
Erna se toestand het geleidelik begin verbeter en haar suurstoftoevoer kon verminder word. Riaan het op 6 Desember die goeie nuus gekry dat hy haar mag besoek.
"Op pad na PE het hy 'n oproep gekry dat my toestand versleg het en dat hy dringend by die hospitaal moes uitkom. Die dokters was nie seker of hy wel betyds sou wees om van my afskeid te neem nie.
"Gelukkig was Riaan betyds en kon hy my met beskermende klere aan in die hoësorgeenheid besoek.
"Wêreldwyd is daar weer gebid."
Die res van die gesin is terug na Graaff-Reinet. "Dieselfde aand het die hospitaal vir Riaan gebel met die nuus dat my toestand nou stabiel is. God het weer Sy magtige krag en genade hier getoon.
"Maar toe begin my tweede uitdaging. Ek was verskriklik swak en ek kon glad nie my hande gebruik of myself regop in die bed ophelp nie."
Op 31 Desember is sy na 'n gewone saal oorgeplaas hoewel "niks vir my sin gemaak het nie," sê Erna.
Daar was Saterdag groot vreugde toe familie en vriende vir Erna Enslin (heel voor), wat wonderbaarlik van die Covid-19-virus herstel het, by die Vallei van Verlatenheid met koffie en kolwyntjies ingewag het en toe 2 km gaan stap het om dit te vier. Foto's: Hugo Redelinghuys
Op 6 Januarie is sy in 'n rehabilitasiesentrum opgeneem waar sy van vooraf moes leer om weer dinge vir haarself te doen.
Dit was 'n stadige, frustrerende proses, maar haar gesondheid het algaande verbeter en op 23 Januarie kon sy stadig, en baie versigtig, op haar eie by haar huis se voordeur instap.
Erna sê dit kan nog twee jaar neem voordat sy weer normaal kan funksioneer. "Maar ek gryp elke dag en geleentheid met hernuwe ywer en geesdrif aan. Ek is ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning en gebede wat ek uit alle oorde ontvang het. Ek sal ook altyd dankbaar wees vir die uitstekende diens wat ek van die dokters en verpleegsters ontvang het. Maar die grootste dankie moet gaan aan my man, Riaan, en my twee dogters, Zenke en Mikha, wat my elke dag motiveer, ondersteun en positief hou. God se genade is groot."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'