GRAAFF-REINET SPORT NUUS - Die eerste naweek van Desember is altyd wanneer die top swemmers in die Oostelike Provinsie in Port Elizabeth saamtrek om deel te neem aan die jaarlikse OP-swemkampioenskappe.
Hierdie gala word gehou om te bepaal wie die beste swemmers in die OP is.
‘n Swemmer moet eers kwalifiseerende tye swem om aan dié gala deel te kan neem.
Drie jong swemmers van Graaff-Reinet, verbonde aan Hoër Volkskool (HVS), het egter aan die strawwe kwalifikasies voldoen en het dus hul staal getoets teen die top swemmers in die provinsie tydens dié onlangse byeenkoms.
Rianco Vermeulen het aan die mans-ope deelgeneem en het strawwe mededinging gehad.
Hy kon egter nie hierdie seisoen oefen soos hy gewoonlik doen nie, maar het onder omstandighede goeie tye geswem.
Die ander twee swemmers van Volkskool wat deelgeneem het is Marlien Crewe-Brown en Llewellyn Crewe-Brown.
Hierdie sibbe het ‘n besonderse goeie gala beleef en hul afrigter by HVS en die Graaff-Reinet swemklub, Corlé Ferriera, was baie ingenome met hul uitslae.
“Llewellyn en Marlien het baie hard geoefen hierdie kwartaal en dit het beslis vrugte afgewerp by die OP-swemkampioenskappe,” sê Corlé. “Hul tye was in bykans elke resies persoonlike bestes en dus is daar geen wonder dat hul onder die top 10 swemmers in die OP gereken word nie. Ek verwag dat hul baie goed sal presteer in die onderskeie skool- en interskool-galas vroeg volgende jaar en ook goeie rekenskap van hulself sal gee by die SA-streekskampioenskappe in Maart.”
Marlien Crewe-Brown is onder die top 12 in haar ouderdomsgroep in die rug- en borsslag items aangewys en haar broer, Llewellyn, is onder die top 5 in die rug-, vlinder- en vryslagitems aangewys. Hy het ook dan ‘n paar medaljes losgeswem vir sy tweede plek in die 100m en 200m rugslag en derde plek in die 50m rugslag.
Volkskool en die dorpie van Graaff-Reinet is baie trots op hierdie drie uitmuntende swemmers.
Marlien Crewe-Brown in die water tydens die onlangse OP-kampioenskappe.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'