SPORTNUUS - Altesaam 3 446 spelers het tydens hierdie jaar se Bokkieweek in Kroonstad, elke dag met 'n positiewe uitkyk en groot gees opgedaag om voluit hulle kant te bring in verskeie sporte.
Zander Oosthuizen, leerder van Hoërskool Cradock, het tydens die Bokkieweek die o. 19 SA Bokkiespan gehaal, nadat hy reeds verlede jaar in die o. 19 Gizelle-span gespeel het.
Hierdie jaar is reeds die derde jaar wat hy vir Hoërskool Cradock se eerste span as haker speel.
Hy is reeds verlede jaar genooi om die Vrystaat te gaan verteenwoordig, in die Afrikaanse Volkseie Sport se Bokkieweek.
Hier word jaarliks twee spanne gekies uit al die betrokke unies.
Zander het weer hierdie jaar vir die Vrystaat gespeel, waar hy verkies is tot die Bokkie A-span, wat SA later hierdie jaar gaan verteenwoordig in Roemenië.
"Ek is bevoorreg om te kan sê dat ek oor beide 2023 en 2024 besondere goeie blootstelling en ervaring opgedoen het, ek is ook bevoorreg dat my ouers my ondersteun," sê Zander.
"Verskeie unies het reeds met Zander kontak gemaak met die hoop om hom na skool te laat studeer. Hy wil graag in rekenaarwetenskap studeer, terwyl hy steeds aan sy rugbyloopbaan, werk," deel sy pa, Charl mee.
Bokkieweek is hierdie jaar van 24 tot 28 Junie aangebied. Zander het as vyfjarige begin rugby speel.
Beide Zander se ouers het hom na dié week in Kroonstad vergesel.
Zander (links) saam met sy trotse pa, Charl Oosthuizen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’