RUGBY NUUS - Dis vat vyf vir die SWD Arende want die span het afgelope Saterdag, 22 April, sy vyfde wedstryd in 'n ry gewen. Die span het die Luiperds in Potchefstroom met 33 - 25 geklop in 'n wedstryd van die eerste divisie van die Curriebeker- en Mzansi-reeks.
Die Arende het vier keer agter die doellyn gaan kuier en so ook 'n bonuspunt verdien. Die Arende het nou 28 punte op die puntelys en is steeds saam met die Valke en die OP Olifante bo-aan die puntelys. Op die horison wink 'n halfeindstryd en selfs 'n eindstryd.
In die wedstryd teen die Luiperds het die Arende ook met drie strafskoppe geslaag en twee drieë verdoel.
Die Arende het vanjaar al 10 wedstryde gespeel waarvan hy sewe gewen het.
Vir die Arende is daar nog twee wedstryde oor. Vrydag om 15:30 draf die span teen Grens op Outeniquapark uit en later in die reeks teen Boland. Beide is moet-wen-wedstryde vir die Arende.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Maandag gesê die Arende was Saterdag teen rustyd nog 13 - 5 agter. In die tweede helfte het die Arende egter met 'n kwaai terugvegpoging begin. Die span was gedissiplineerd en boonop het Adriaan van der Bank, die Arende se losskakel, met goeie strafskoppe geslaag.
Tot kort voor die einde was die Arende 26 - 25 voor. Janneman Stander, kaptein van die Arende, het in die 81ste minuut die span se vierde drie gaan druk en so die bonuspunt verseker.
Volgens Moolman is hy in die geheel gesien baie tevrede met aspekte van die Arende se spel. Hy wil sien dat die span volledig speel en 80 minute voluit speel. Hulle moet verander van 'n 40 minute span na 'n 80 minute span. Hulle moet 'n konstante vertoning lewer.
Die Arende se samespel begin goed lyk. Ondersteuners kan gerus Vrydagmiddag by Outeniquapark opdaag om die Arende te ondersteun.
Die SWD Arende Saterdag na afloop van hul oorwinning in Potchefstroom. By hulle is die afrigtingspan, familielede en ondersteuners.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’