Video
RUGBY NUUS EN VIDEO - Rugbygeesdriftiges in George en die Tuinroete word môreaand, 20 Oktober, weer bederf wanneer een van Suid-Afrika se voorste rugbyunies se spanne, die Pumas in aksie sal wees op Outeniquapark.
Om 15:30 draf 'n Airlink Pumas XV teen 'n plaaslike klubuitnodigingspan uit en om 18:00 draf die Airlink Pumas teen die Phangela SWD Eagles/Arende uit.
Die wedstryde volg kort op die hakke van die onlangse wedstryde van die Stormers en Sharks wat ook op Outeniquapark in aksie was.
Die Pumas is natuurlik geen hierjy span nie. Die Pumas het in die onlangse verlede die Curriekbeker gewen en ook in 'n eindstryd van die kompetisie gespeel.
Ofskoon môreaand se wedstryde as opwarmings/vriendskaplike wedstryde beskou word, word dit met groot erns benader.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Dinsdag gesê daar is nie iets soos 'n vriendskaplike wedstryd nie.
"Ons sien uit na die wedstryd en verwag 'n harde wedstryd. Dit gaan 'n massiewe wedstryd wees."
By die Arende begin dinge vorm aanneem vir die nuwe seisoen. Volgens hom is die kontraktering van spelers, wat op 1 November in werking tree, byna afgehandel.
"Ons het Oktober as 'n proefmaand gebruik. Kontrakte is reeds aan spelers aangebied."
Vrydag kry die bestuur van die Arende geleentheid om dinge nog verder dop te hou wanneer die plaaslike klub uitnodig-ingspan speel.
Hy is tevrede met wat sover gebeur en die gehalte spelers. Daar is nuwe en jong spelers in die groep. Sowat 20 spelers wat al die laaste twee jaar betrokke is vandat hy die leisels oorgeneem het, is weer betrokke. Dit verseker kontinuïteit.
Moolman sal na verwagting sowat 32 of 33 spelers kontrakteer. Nog 'n pluspunt is dat van die talentvolle spelers wat voorheen na die groter unies gegaan het, terugkeer.
Een van sy fokuspunte is om meer lengte en fisiekheid onder die voorspelers te kry.
By die agterspelers kyk hy na beter verdedigers en die kaliber spelers om oor die voordeel lyn te kom en so momentum te bou. Dit sal beteken dat die Arende hul tipe spel kan speel.
Die Arende neem in die nuwe seisoen aan twee kompetisies deel - die SA Cup en die eerste divisie van die Curriebekerkompetisie.
VIDEO - Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, praat oor sy span se wedstryd Vrydag teen die Pumas:
Video: Eugene Gunning
Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, het tydens een van die groep se eerste oefeninge in George gesê die besoek is ter voorbereiding vir die Curriebekerkompetisie.
Hy het 'n beroep op ondersteuners gedoen om die geleentheid by te woon. "Kom ontmoet die Pumas en maak dit 'n feestelike aand vir George."
Die hekke open voorlopig om 14:00. Martin de Vos, woordvoerder van SWD-rugby, het 'n beroep op ondersteuners gedoen om die wedstryde by te woon.
Spelers van die Pumas besig met oefening by Van Kervel Skool in George. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’