RUGBY NUUS - 'n Oudinwoner Matthew Fortuin, maak Pacaltsdorp en George trots met sy prestasies op die rugbyveld. Die 23-jarige Matthew is onlangs aangewys as Noordwes-Universiteit Rugbyinstituut se o.21-speler van die jaar. 'n Blink toekoms word vir hom op die rugbyveld voorspel.
Hy is 'n oudleerder van Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) en sy ouers Mary-Ann en Jose Fortuin woon steeds in Pacaltsdorp.
Hy studeer sedert die begin van die jaar gesondheidswetenskappe aan Noordwes-Universiteit.
Die rugbygogga het hom as jong kind gebyt toe hy nog by Laerskool George-Suid was. Aanvanklik het hy as skrumskakel begin speel.
Hy het onder meer die o. 12 SWD-skolespan gehaal en het ook skool gegaan by Hoër Landbouskool Oakdale.
In gr. 11 is hy na die Kwaggas gelok waar hy in 2019 gematrikuleer het. Na skool was hy eers by die WP Rugby-akademie en het later ook vir die OP en Griffons se o. 20-spanne uitgedraf.
Hy was vanjaar ook deel van NWU se Varsity Cup-span wat die beker gewen het. Vanjaar het ook al die o. 21-span van die Luiperds gehaal.
Matthew Fortuin
Mary-Ann het gesê hulle as ouers is baie trots op hom. In 'n kort tyd het hy baie opgang gemaak. Hy moes al baie uitdagings in sy rugbyloopbaan oorbrug.
"Hy is baie skaam, maar van sy sterkpunte is dat hy kan vasbyt en baie nederig is."
Matthew het gesê hy wil solank as moontlik rugby speel. Tot dusver was hy relatief gelukkig en het nie groot beserings opgedoen nie. Sy mikpunt is om in die toekoms vir die Springbokke uit te draf.
Hy geniet die rugby op die oomblik. "Ek mis George en my familie, maar ek is al gewoond aan waar ek hier is. Ek geniet die rugby hier."
Matthew Fortuin in aksie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’