GRAAFF-REINET RUGBYNUUS - Dagbreek Koshuis van Stellenbosch het laasweek Woensdag hul rieme styf geloop na 'n taai wedstryd teen Graaff-Reinet Rugbyklub.
Die plaaslike manne het dié stryd 31-29 gewen.
Graaff-Reinetters het in groot getalle by die Botaniese-sportgronde opgedaag om hierdie jaarlikse kragmeting te aanskou. Vure het gebrand en die reuk van Karoo-vleis het oor die veld gehang.
Onder leiding van kaptein en skrumskakel Dirkie Alberts het die Karoo-boere met min oefening maar baie inspirasie op die veld uitgedraf. Goeie hardloop- en dryf-rugby is opgedis en die telling was deurentyd in die weegskaal.
Teen lemoentyd moes Graaff-Reinet kleedkamers toe om hul spelplan onder die vergrootglas te plaas, met Dagbreek wat 10 - 5 voorgeloop het.
Terug op die veld was die wildboere duidelik meer gemotiveerd. Die telling het egter bly wipplank ry.
Met die einde in sig het Graaff-Reinet al begin proe aan die wen met die dorp se span wat 26 - 24 voorgeloop het.
Dagbreek het egter die spel weer in hul guns gedraai met 'n drie en telling van 29 - 26.
Graaff-Reinet Rugbyklub se span wat met Dagbreek Koshuis afgereken het. Foto's: Christo Vermaak
In die doodsnikke van die wedstryd het Paul Krige, nes oud-Bokkaptein Hannes Marais, die bal opgetel en met krag en mag genael om die wendrie te druk.
Graaff-Reinet het sover al drie van die vier jaarlikse wedstryde teen Dagbreek gewen.
Hierdie jaar is die plaaslike drieë deur Paul Krige (1), Juan van der Merwe (1), Ricco van der Mesch (1) en Addel Pietersen (2) gedruk.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'