RUGBY NUUS - Heidelberg, Seagulls en Riversdal Blues het in hul openingswedstryde van die nuwe rugbyseisoen Saterdag 16 Maart met oorwinnings afgeskop.
Heidelberg het op sy tuisveld 'n sukkelsege van 19-14 oor George behaal. Rustyd was hy met 6-0 voor.
Heibi se span was verswak weens talle beserings en die nie-beskikbaarheid van sleutelspelers en het hom vasgeloop in die begeesterde verdediging van die besoekers. Die tuisspan kon met al sy balbesit net een drie kon druk teenoor George se twee drieë.
Puntemakers vir Heibi was Francois Pieters, senter, met sy span se enigste drie onder die pale, met die belowende John Michaels, regtervleuel, wat die drie verdoel en met vier strafskoppe geslaag het.
Heibi se volgende wedstryd is Saterdag 23 Maart weg teen Maori's van George en sal hulle veel beter wil vertoon om hul ondersteuners tevrede te stel.
Seagulls het sy openingswedstryd in Melkhoutfontein teen Happy Hearts oortuigend met 45-12 gewen en in die proses sewe drieë ingeryg. Hulle was rustyd 19-7 voor, maar in die tweede helfte het hulle die krane oopgedraai.
Joswin Joseph slaan 'n gaping tydens die klub se onlangse proewe.
Seagulls reis Saterdag 23 Maart na Sedgefield vir hulle volgende wedstryd.
Riversdal Blues, wat dié seisoen spog met ses nuwe aanwinste, het Uniondale in die Riverville-stadion redelik maklik met 31-17 geklop.
"Maar ons wedstrydfiksheid skiet tekort en ons sal ons verdediging ook blitsig moet opskerp," het Ralph Michael, hoofafrigter van die Blues, aan Suid-Kaap Forum gesê.
Stephan van der Bergh, sy nuwe stutaanwins, is nog beseer en dis juis in die voorry waar die Blues gesukkel het. "Ek was tevrede met ons samespel, veral agterlangs, maar daar lê harde werk voor."
Blues en Albertinia Ranges het albei Saterdag wegwedstryde teen onderskeidelik Happy Hearts en Knysna.
Brintley Bezuidenhout van die Blues in volle vaart. Die man word moeilik vasgevat.
Lambert Johnson (met bal) hang in die lug voordat hy hardhandig grond toe getrek word.
Devon Karelse word tydens Riversdal Blues se onlangse proefwedstryde vasgevat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’