KAROO SPORTNUUS - Joe Gildenhuys, 'n 14-jarige seun wat op die outistiese spektrum is, was een van die Graaff-Reinet Raptors-studente wat op Saterdag 14 Oktober vir die eerste keer aan die East Coast Elephant Open van Kosa (Kickboxing Organisation of South Africa) in Jeffreysbaai deelgeneem het.
Gildenhuys het 'n silwermedalje in die Tatami semi-kontak en 'n bronsmedalje in die Tatami ligte-kontak afdelings in hierdie kompetisie verwerf.
Wat sy prestasie so merkwaardig maak is dat hy, ten spyte van vele uitdagings wat met sy kondisie gepaard gaan, so uitstekend gevaar het.
Joe het in 2021 by die Raptors aangesluit omdat hy wou leer hoe om homself te beskerm nadat hy 'n slegte ervaring gehad het.
Sunet Gildenhuys, sy ma, vertel dat die klub 'n positiewe uitwerking op Joe het omdat alles so gestruktureerd en gedissiplineerd is.
"Die Raptors se aanvaarding en vriendskap bring die beste in hom uit. Die kompetisie vir hom is regtig soos om 'n Comrades-marathon te voltooi. Dit was 'n wonderlike ervaring om te sien hoe die hele klub agter hom staan en hom ondersteun," sê Sunet.
Volgens Sensei Aletta du Toit het hy vinnig by die Raptors ingeval. "Hy is 'n baie vriendelike seun met die mooiste maniere en daarom het almal gou lief vir hom geraak."
Sover Joe se vernuf in die gemengde gevegskuns betref noem Du Toit dat hy 'n geweldige uithouvermoë het.
Sy vertel hoe Joe tydens sy tweede grondwerk gradering homself fisies so uitgeput het dat hy flou geval het omdat hy nie soos die ander 'n bietjie tussenin kan rus nie - dit is regtig alles of niks. "Ten spyte hiervan het hy opgestaan en die kompetisie met 'n "ankle lock" afgesluit, dit wys net watter tipe mens hy is – hy was letterlik platgeslaan maar het opgestaan en die gradering op 'n hoë noot afgesluit."
Joe se gr. 8-onderwyseres, Rika van der Merwe, sê dat een van die groot veranderinge wat sy waargeneem het sedert hy by die Raptors aangesluit het, beslis die manier is hoe sy deursettingsvermoë verbeter het. "Wanneer hy dink dat hy iets nie kan doen nie herinner almal hom aan die gemengde gevegskuns en dit help baie," sê sy.
Sunet sê dat dit baie vir hulle beteken dat Joe se prestasies raakgesien word en hy erkenning daarvoor kry. "Veral vir kinders soos Joe beteken dit geweldig baie en daarom is ons regtig so dankbaar vir die belangstelling."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’