GRAAFF-REINET NUUS - Nadat sy rugbystewels vir twee jaar weens beserings stof moes vergader, het AJ de Jager, ’n matrikulant aan Hoër Volkskool, tydens die uitgelese Bokkieweek-skolesporttoernooi van 24 tot 28 Junie, behoorlik ingehaal vir al die wedstryde wat hy gemis het.
Boonop is De Jager gekies as buitesenter vir die amptelike o. 19-Bokkiespan, bestaande uit 25 spelers, wat Suid-Afrika in September in Roemenië sal verteenwoordig. Tydens die toernooi is hy ook aangewys as agterspeler van die Vrystaat.
In die eerste wedstryd waar Vrystaat teen Griekwas te staan gekom het, het hy twee drieë gedruk en is aangewys as speler van die wedstryd.
Vir De Jager en sy ouers, Arno en Lizé, was ‘n week van rugby, netbal en hokkie waar altesaam 3 446 uitgenooide, belowende sportsiele in Kroonstad byeengekom het, glad nie deel van hulle 2024-jaarbeplanning nie.
“Ons was nie eers bewus van die bestaan van hierdie jaarlikse uitnodigingstoernooi nie en het amper die uitnodiging gemis”, vertel Lizé.
“Op ‘n dag het Arno se foon ‘n paar keer gelui, maar hy antwoord nie geredelik oproepe van onbekende nommers nie. Eers toe my foon daarna ook ‘n oproep van dieselfde vreemde nommer registreer, het ons maar geantwoord.” Boonop was AJ de Jager die afgelope twee jaar meer toeskouer, as deelnemer aan sy gunsteling sport weens twee afsonderlike beserings.
“Twee jaar gelede het hy in ‘n motorfietsongeluk sy stuitjiebeen gekraak en rugbyspeel was buite die kwessie. Verlede jaar het hy ‘n skouerbesering opgedoen in ‘n wedstryd teen Marlow en weereens die res van die seisoen gemis,” vertel Lizé.
De Jager speel rugby al van voorskool af en die beserings het hom behoorlik gekniehalter. Hy is ‘n agterspeler van formaat wat al diens gedoen het vir sy skoolspan as losskakel, senter en heelagter. Vanjaar draf hy vir Hoër Volkskool uit as binnesenter.
“Die hoogtepunt van die toernooi was ongetwyfeld om met al die ander spelers, veral die van die Vrystaatspan, kennis te maak en vriendskapsbande te kon sluit”, som ‘n beskeie AJ sy ervaring van die toernooi op.
Soos elke ander prestasie van ‘n ouer se kind, laat ook hierdie toernooi menige betrokke ouer met ‘n knop in die keel. “Om soveel talent te aanskou en te sien hoe gemaklik die kinders met mekaar oor die weg kom; hoe hulle in ‘n kwessie van enkele dae vriendskapsbande bou; en mekaar ondersteun en fokus op die gedeelde belang van ‘n liefde vir sport, verleen ‘n verdere, dieper en ryker dimensie aan ouerskap - ons is so dankbaar dat ons die week saam met AJ kon deurbring.”
Die De Jagers het die afgelope naweek ook onbepland na Johannesburg gereis om daar die glansdinee waartydens die gekose Bokkiespanne hulle uitrustings ontvang het, by te woon. Lizé sê: “’n Mens bly maar immer dankbaar vir die talente wat die Here vir jou kind gegee het - dis net genade”.
Om Suid-Afrika, maar veral die Groot-Karoo en AJ se grootwordwêreld van Aberdeen- en Graaff-Reinet-distrikte, in Roemenië te kan gaan verteenwoordig, is ‘n onverwagte hoogtepunt in AJ se rugbyloopbaan tot dusver. De Jager se toekomsplanne sluit beslis vriendskaplike rugby in, maar sy fokus is meer gerig op landbouopleiding by Elsenburg volgende jaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’