RUGBY NUUS - In 'n tuiswedstryd in die EPRU Grand Challenge Cup-liga het Aberdeen A-span Saterdag 27 Julie die veld gevee met Lily White se A-span van Makhanda.
Nadat die rustydtelling 7-0 in die guns van Aberdeen was, het hulle voortgebou op die voorsprong en die eindtelling was 20-7 vir Aberdeen.
Die wedstryd is gekenmerk deur verskeie los- en vasaanvalle deur beide spanne wat meestal deur die opponente gestuit is.
Uitermate sterk wind, te veel hanteringsfoute aan beide kante en fasebewegings sonder finale afronding het die wedstryd van vloeiende spel beroof.
Lily White het in die eerste helfte saam met die sterk wind van Saterdag gespeel en uit die begin sterk druk op Aberdeen geplaas. Die grootse deel van die eerste 20 minute van die wedstryd is gespeel in Aberdeen se kwartgebied.
Lily White oorheers ‘n lynstaan.
Met Aberdeen veral bekend vir hul onverskrokke hardlooprugby en nie soveel fokus op verdedigende spel nie, was Saterdag se eerste helfte vir onder-steuners verfrissend anders: elke reeks aanvalsbewegings van Lily White is telkens gestuit deur 'n muur van Aberdeen-verdedigers.
Ten spyte van veel meer faseaanvalle in die eerste helfte, kon Lily White net nie deurbreek en afrond met punte nie. Kort voor rustyd - en ná verskeie skrums haas op die doellyn van Aberdeen - het Aberdeen suksesvol 'n teenaanval geloods en die eerste punte van die dag onder Lily White se pale aangeteken.
Die tweede helfte, met die wind van agter, het Aberdeen nog twee drieë gedruk en Lily White het daarin geslaag om eenkeer deur Aberdeen se verdediging te breek en af te rond met 'n drie. Brendan Flippies, Giano Smith en Mayo Draai het vir Aberdeen agter die doellyn gaan kuier.
Op 'n klipharde, kurkdroë rugbyveld wat lank gelede sagte, groen gras geken het, was beserings aan beide kante aan die orde van die dag.
Alhoewel die meeste beserings nie ernstig was nie en van korte duur, is Nataniel Klaasen van Aberdeen van die veld met 'n ernstige besering. Hy het sy enkel gebreek en sal nie vir die volgende wedstryd beskikbaar wees nie.
In hulle kwartgebied het Aberdeen soos ‘n muur verdedig.
Lily White se veel groter voorpak was intimiderend in aanvalle. Foto's: Alex Lombaard
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’