SUID-KAAP NUUS - Die SWD Arende se vlugvoetige heelagter, Leighton Eksteen, het Saterdag uitstaande spel gelewer in hul vriendskaplike wedstryd teen die Southern Kings op die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth.
Die Kings was met 42-24 baas, maar kon nie heeltemal tevrede wees met hul laaste opwarmingswedstryd voor hul op Saterdag 25 Februarie hul Superrugby-veldtog tuis teen die Jaguares afskop nie.
Die rustydtelling was 28-12 in die Kings se guns.
Die Arende het hul spelpeil gelig nadat hul verlede Saterdag deur die Stormers op Outeniquapark met 57-14 geklop is.
Die voormalige Arend Alshaun Bock (linkervleuel) het die Kings vroeg in die wedstryd die voortou laat neem toe hy 'n onderskepdrie gedruk het.
Charles Radebe (linkervleuel) en Janneman Stander (flank en kaptein) is net voor rustyd oor vir drieë vir die Arende.
Na rustyd het die Arende met 'n groot aanslag voor die dag gekom en Boela Abrahams (skrumskakel) en Freginald Africa (plaasvervanger-losvoorspeler) het gaan druk.
'n Strafdrie (7 punte volgens die nuwe reëls) in die tweede helfte vir die Kings het die knoop vir hul deurgehak.
Die Arende se plaasvervangerbank het net na rustyd 'n groot verskil gemaak. Veral hul flank, Africa, het met sy spoed en rotsvaste verdediging baie druk op die tuisspan geplaas.
Stander was saam met sy flankmaat, Devon Raubenheimer 'n yster voorlangs. Agter die skrums kon Boela Abrahams (skrumskakel) tevrede voel met sy spel. Eksteen was baie prominent in sy span se teenaanvalle.
Abe Davids, hoofafrigter van die Arende, het na die wedstryd aan die George Herald gesê: "Dit het vanmiddag stukke beter gegaan as verlede week teen die Stormers. My span het talle omgekeerde besit bewerkstellig en het 'n paar lynstaanballe van hul gesteel. Ons was baie beter in die vaste fasette en het onder die omstandighede beter verdedig. My span het mooi gespeel teen 'n Superrugbyspan wat al lank saam oefen. 'n Strafdrie teen ons het ons duur te staan gekom. Ek is egter baie opgewonde oor die seisoen wat voorlê en glo ons het die talent om vanjaar 'n krag te wees in die Curriebeker- kompetisie."
ARTIKEL: ANDRé STANDER, KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'