GRAAFF-REINET NUUS — Op Vrydag, 29 September, skop die Wilde Woeste Wedloop wéér die jaar se Karoo-lus aktiwiteite af.
Die pret kompetisie is verlede jaar vir die eerste keer gehou en was dit soveel pret dat daar besluit is om dit 'n jaarlikse instelling te maak.
Die kompetisie - wat op die Botaniese Sportgronde om 14:00 die middag sal plaasvind - behels 'n baan met verskeie pret uitdagings wat spanne van vier suksesvol sal moet slaag om in aanmerking te kom vir een van die tientalle fantastiese pryse.
Die baan bestaan uit, onder andere, 'n Crack the Code-uitdaging, verskeie Minute To Win It-items, boeresport items en 'n Fear Factor-uitdaging.
Spanne moet uit vier waaghalsige hoërskoolleerders (van Graad 8 to Graad 12) bestaan - elke span moet 'n spannaam en oor tonne spangees beskik want dit sal hul ook in aanmerking laat kom vir 'n prys!
Soos die deelnemers van verlede jaar kan getuig, is dié resies een van die lekkerste aktiwiteite op dié fees se program en met tonne kontantpryse, geskenkbewyse, en natuurlik spogregte, is dit verseker een wat nie misgeloop moet word nie.
Inskrywing is gratis (slegs toegangsfooi tot Karoo-lus terrein betaalbaar) en word aspirante deelnemers aangemoedig om so gou moontlik in te skryf aangesien deelname beperk is tot slegs tien spanne.
Inskrywingsvorms is beskikbaar by Windmill Junction sowel as die Hoër Volkskool en Union High skoolkantore.
Inskrywings moet teen 26 September voltooi en ingehandig wees.
Diegene wat meer inligting verlang kan vir Jannien van Jaarsveld by 079 491 5181 of Amori van Jaarsveld by 071 606 4620 skakel.
Graaff-Reinetters wat dié prettige affêre wil aanskou word genooi om hul by die Botanies pawiljoen te kom ondersteun - dit beloof om 'n baie aanskoulike wedloop te wees!
Die dag is vet pret!
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'