TUINROETE | KAROO NUUS - 'n Stap in die regte rigting. Dit is hoe kundiges en belanghebbendes in Suid-Kaapse sportkringe die regering se aankondiging beskryf om weer toeskouers by sportbyeenkomste toe te laat.
Daar is wel sekere voorwaardes aan verbonde. Altesaam 2 000 toeskouers mag buite teenwoordig wees en 750 binnenshuis.
Dave van der Walt, atletiekadministrateur en -afrigter, het vroeër die week gesê daar moet wel in gedagte gehou word dat daar steeds beperkings is. "Covid-19-protokol is steeds van toepassing, dit het nie verval nie. Ek glo dit moet streng by sportbyeenkomste toegepas word."
Tweekamp in die streek oorweeg om te kyk of mense hul digitale inentingsterfikate kan wys as hulle byeenkomste bywoon.
Dave van der Walt
Veda Manie van SWD-rugby het gesê in beginsel word die aankondiging verwelkom. "Dit is 'n stap terug na die normale situasie. Die sukses daarvan gaan afhang van die samewerking van die gemeenskappe rondom die toepassing van die Covid-19-protokol."
Albertus Kennedy, uitvoerende hoof van SWD-krieket, het gesê daar kan aanvaar word dat die regering alle moontlike insette van alle rolspelers oorweeg het, voordat dit geproklameer is.
"Ons verwelkom dit. Toeskouers is uitgehonger om weer sportbyeenkomste by te woon. Toeskouers is 'n belangrike element van sport."
Bevin Fortuin, oud-Springbok en onder meer voormalige afrigter van die SWD Arende, het gesê dis 'n goeie ding, maar die getalle is nog te min. In die buiteland is met 5 000 toeskouers begin.
"Maar dis 'n stap in die regte rigting. Toeskouers bring 'n ander element na sport. Net soos die toeskouers die spelers gemis het, so het die spelers ook die toeskouers gemis."
Piet Cloete, adjunkhoof sport van Hoërskool Outeniqua, het gesê hy hou styf duim vas dat dit ook van toepassing gaan wees op skole.
"Ons het nog geen instruksies van die departement van basiese onderwys ontvang nie. Ons sal graag weer ouers by die sportvelde wil hê."
Bevin Fortuin
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'