GRAAFF-REINET NUUS - Die pasafgelope Saterdag, 20 Oktober, het die jaarlikse interprovinsiale tweekampkampioenskappe in Port-Elizabeth plaasgevind.
Vyf provinsies en streke het hier sake uitgespook en ten einde het OP weer koning gekraai.
Ten spyte van die akademiese druk, het honderde deelnemers opgedaag vir dié dag en was daar ook 16 Graaff Reinetters teenwoordig om hul provinsie te verteenwoordig.
Heelwat nuwe persoonlike bestes is opgestel en daar is selfs vier Suid-Afrikaanse rekords op die dag gebreek.
Gedurende dié byeenkoms is daar ook aangekondig dat OP Tweekamp hul volgende ronde tweekamp-uitdunne in Graaff-Reinet gaan aanbied.
Dit is 'n besonderse eer vir die dorp en daar word gehoop dat die byeenkoms in Graaff-Reinet 'n jaarlikse instelling sal word. Alle atlete van die Karoo, dit wil sê van skole soos Marlow, Gill, Cradock, Union en Volkskool, sal dus híér kan kwalifiseer vir die OP-span, en nie die lang tog na Port-Elizabeth hoef aan te pak nie.
Atlete word dus aangemoedig om Saterdag, 10 November, die uitdaging te aanvaar en, wie weet, dalk die OP-tweekampspan só te haal.
Vereistes behels dat die deelnemende atlete ten minste drie keer om die baan kan hardloop en vier lengtes van die Hoër Volkskool-swembad kan swem.
Inskrywings van 8-jaar en ouer kan deelneem. (Agt-jariges hoef slegs een keer om die baan en een lengte te kan swem.)
Die huidige OP-deelneemers van Union en Volkskool daag dan ook hul ouers uit om deel te neem. Op die dag gaan daar 'n pret-item wees waar ouerpare as 'n span kan deelneem, waar die een sal moet swem en die ander een sal moet hardloop.
Volwassenes word spesifiek ook deur die organiseerders aangemoedig om hul staal te kom wsy - OP Tweekamp het honderde skolier-atlete maar daar is wel 'n tekort aan volwass-atlete. Die SA tweekampkampioenskappe vind hierdie jaar in Port-Elizabeth plaas en wie weet, dalk kan jy in 'n OP-frokkie hiervoor uitdraf. Die byeenkoms begin stiptelik om 09:00 by Hoër Volkskool, maar registrasie vind reeds van 08:00 af plaas en sluit om 08:45.
Die dag behoort teen 13:30 klaar te wees.
Inskrywingsgled is R30 wat ook 'n klein geskenkie sal insluit. Heerlike versnaperinge sal ook op die dag verkoop word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'