GRAAFF-REINET NUUS - Die geestelike en morele verval van die jeug in gemeenskappe soos Graaff-Reinet is ‘n bekende onderwerp waaroor boekdele geskryf kan word.
Maar twee inwoners, Marsha Wildschut en Elsebe Moos, het 'n mooi storie om te deel. Marsha vertel dat sy en Elsebe eendag laat verlede jaar voor die deur gesit en gesels het toe vier meisies uit die bloute daar opdaag.
Die meisies het gesê dat hulle graag netbal wil speel omdat hulle nie meer wil rondsit en waterpyp (hookah) rook nie.
Marsha en Elsebe het toe besluit om die vier meisies te help en so het die Red Life United-netbalklub ontstaan. Hulle het aanvanklik sommer 20 liter emmers met klippe in gebruik om netbalpale voor die deur staan te maak.
Later het hulle vir hulself 'n ordentlike netbalbaan op die perseel van die ou Kroonvale-swembad gemaak.
Die perseel was baie vuil, maar hulle het dit self skoongemaak en die skoolhoof van Spandau Sekondêr en Meat and More in Graaff-Reinet het toe verf gegee waarmee hulle die netbalbaan se lyne kon verf.
"Ek het sommer self die netbalbaan se lyne getrek, die kinders het net die verf vir my aangedra," vertel Marsha. Aan die begin was daar net enkele spelers, maar die getalle het sedert Oktober verlede jaar so gegroei dat hulle nou twee senior spanne en twee junior spanne het.
Selfs meisies van sover as Santaville het mettertyd aangesluit en hulle het ook begin om ligawedstryde teen spanne in Asherville en uMasizakhe te speel.
Volgens Marsha het die inperking alle sportkodes 'n geweldig geknou gegee, maar Red Life United het netbal weer lewe gegee. Die geestelike groei van die kinders is vir Marsha die belangrikste.
Sy sê die meisies weet dat hulle nie mag speel indien hulle nie Sondagskool bygewoon het nie. Sy verduidelik ook altyd vir die meisies dat netbal 'n kode is en dat dit nie oor wen of verloor gaan nie, maar eerder oor jou eie persoonlike ontwikkeling.
"Jy moet net jou beste gee want, wen of verloor, jou beste is altyd goed genoeg."
Die seuns is altyd alte gretig om hand by te sit en dit is dan ook die geleentheid om na hulle uit te reik. Marsha noem dat die kinders al vyf waterpype by haar kom inhandig het omdat hulle nie meer wil rook nie. "Netbal gee vir die kinders ‘n 'sense of belonging' wat tog so belangrik vir hul emosionele welstand is."
Marsha noem dat hulle geweldige ondersteuning van die gemeenskap ontvang. Sy spreek haar dankbaarheid uit teenoor elkeen wat al ‘n bydrae gemaak het.
Marsha sê dat Laughton Hoffman verseker hul grootste ondersteuner is. Hy het aan die begin R500 geskenk wat hulle gebruik het om balle mee te koop en vervoerkostes van kinders te dek wat dit nie kon bekostig nie. Daarna het hy gereeld water en koeldrank verskaf en onlangs het hy weer vir hulle twee nuwe balle en ‘n trofee geskenk.
Die klub wil in die winter hul eie liga reël en die Hoffman-trofee sal dan aan die beste speler toegeken word.
Ondanks al die ondersteuning, is die behoefte steeds baie groot. Daar is baie meisies wat graag wil speel, maar eenvoudig nie tekkies kan bekostig nie. Tans leen hulle maar so onder mekaar.
Spelers van Red Life United-netbalklub by Marsha Wildschut (in wit en pienk).
Foto's: Chriszanne Janse van Vuuren
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'