GRAAFF-REINET NUUS - Twee studente van Graaff-Reinet-Raptors Martial Arts-klub het op 2 en 3 Junie in gemengde gevegskuns, aan die OP-Classic Kampioenskappe in Despatch deelgeneem.
Altesaam 163 studente van agt verskillende klubs regoor die Oos-Kaap, het aan hierdie kampioenskappe deelgeneem.
Reaglin Maarman, ‘n gr. 8 leerder van Hoër Volkskool, het uitstekend presteer tydens die kampioenskappe. Hy het twee medaljes vir gemengde- en punte gevegkuns (points fighting), asook drie goue medaljes vir ligte kontak, grappeling en hoogskop (high kick), met ‘n hoogte van 2,2 m, gewen.
“Reaglin het regtig uitgeblink,” sê die Raptors se sensei, Aletta du Toit. “In elkeen van die divisies waaraan hy deelgeneem het, het hy ‘n medalje gekry.”
Reaglin en sy jonger boetie, Jaqwan, het einde January 2022 by die Raptors Martial Arts-klub aangesluit. Jaqwan is ‘n gr. 2 leerder van Union Primêre Skool en het ook aan die kampioenskappe deelgeneem. Hy het een silwer medalje vir grappling en een brons medalje vir ligte kontak gekry.
Hulle ma, Nettly Maarman, is baie trots op die twee vegters se prestasies. Sy vertel dat die seuns aanvanklik by die Raptors aangesluit het om persoonlike uitdagings te oorkom.
“Reaglin was ook op ‘n stadium die teiken van boelies en moes leer om homself te verdedig. Jaqwan was baie teruggetrokke, so dit was ook maar om hom so bietjie uit sy dop te laat kruip. Om deel van die Raptors te wees gaan oor baie meer as net gevegkuns, dit gaan oor ‘n ‘sense of belonging’ – om déél van ‘n span te wees,” sê Nettly, en hiermee stem Reaglin heelhartig saam.
“Ek het gedink dit gaan net vir die lekkerte wees maar die sport het my hart geraak, ek is lief vir die sport.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’