GRAAFF-REINET NUUS - Hoër Volkskool, 'n tradisieryke Karoo-skool wat die laaste eeu bogemiddelde prestasies en hoogtes bereik het op talle vlakke insluitend in sport, kry eersdaags 'n nuwe "state of the art" gimnasium.
Rugby, netbal, tennis, hokkie, swem, boogskiet en atletiek is onder andere sportsoorte waarin daar deur die jare op hoë vlak suksesvol kompeterend deelgeneem is.
Volkskool het 'n ryk sporttradisie en -geskiedenis waarop alle leerlinge, oud-leerlinge en onderwysers geweldig trots is.
Daarom het Volkskool besluit om 'n nuwe, beter, groter en meer volledige gimnasium te bou.
Talente optimaal benut
Volkskool se direkteur van rugby, Jaco van Schalkwyk, sê konstruksie het al begin en vorder goed.
"Ons doel en motivering hiervoor is om ons leerlinge toegang te gee tot 'n fasiliteit wat hulle talente in sport kan help ontwikkel onder die toesig van verantwoordelike en bekwame afrigters. Skolesport se standaarde verhoog jaarliks wêreldwyd, en ons by Volkskool wil seker maak dat ons leerlinge die geleentheid het om hulle talente optimaal te ontwikkel en sodoende tred te hou met hedendaagse hoëvlak skolesport.
"By Volkskool is ons primêre fokus daarop om gebalanseerde kinders die grootmenswêreld in te stuur, en ons ervaring is dat sport 'n integrale rol speel in hierdie vormingsproses. Ons kinders verdien dit."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'