HOFMEYR NUUS - Die rolbalklub in Hofmeyr het die afgelope naweek as gasheer opgetree vir 56 rolbalspelers vanoor die Oos-Kaap.
Veertien spanne het meegeding in die Hofmeyr Men's Classic waarna die Pramkoppen-trofee hierdie jaar vir die 20ste keer aan die wenspan oorhandig is.
Spanne in hierdie toernooi word na die eerste wedstryd, wat vooraf getrek is, sterkstes teen sterkstes geloot.
Hofmeyr se rolbalklublede het bygedra sodat elke speler in elke span 'n vleisskenking kon ontvang.
Gastehuise en beskikbare verblyf was weer volbespreek, en vele spelers het ook hulle gesinne en wederhelftes gebring om op Hofmeyr te kom kuier. Etes tydens die toernooi is hanteer deur die vroue van die rolbalklub, onder bekwame leiding van Karen Fletcher en haar span, wat van vroegdag tot diepnag die kombuis beman het.
Die span van Gonubie-rolbalklub in Oos-Londen was die wenners en het die Pramkoppen-trofee met trots omhoog gehou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’