Gallery
GRAAFF-REINET NUUS — Die gees loop hoog en die atmosfeer is tasbaar by die twee mededingende skole soos die aksiebelaaide naweek waartydens die Asherville en Spandau Sekondêre Skole mekaar in hul interskole kragmeting gaan pak nader.
Die finale besonderhede van dié twee dae word tans gefinaliseer en die spanne is besig om hulself voor te berei - fisies sowel as emosioneel.
Al twee skoolhoofde is vol vertroue dat die naweek ‘n groot sukses sal wees vir beide skole.
Jeffrey Grootboom, skoolhoof van Asherville Sekondêr, is positief oor die groot stryd wat voorlê en voel dat dit as inleiding sal dien tot ‘n nuwe era in die gemeenskap. Hy sê ook dat om byeen te kom net die begin is, maar om saam te werk ‘n oorwinning sal verseker.
Asherville se hoof gee ook raad vir die leerders. Hy moedig hulle aan om so kompeterend te wees soos wat hul Godgegewe talente hul toelaat, om volgens die reëls deel te neem en om nooit hul waardigheid prys te gee nie.
Eugene Mackelina, skoolhoof van Spandau Sekondêr, voel dat dit nie net ‘n sport naweek is nie, maar dat dit ook ‘n geleentheid is om eenheid in die gemeenskap aan te moedig.
Hy gee ook sy stukkie raad vir die leerders en sê, “Aan elke individueel wat deelneem - dit maak nie saak hoe groot of klein jou rol is nie - onthou, jy is jou enigste beperking - sport bou nie net karakter nie, maar onthul dit. Mag die beste span wen!”
Die leerders en hul ouers is ook baie geesdriftig en opgewonde oor die groot naweek wat voorlê by die Kollie Koeberg Sportkompleks.
Die organiseerders, dit wil sê die plaaslike reëlinsgkomitee wat bestaan uit verteenwoordigers van beide skole, verwag ‘n groot skare ondersteuners en glo die dag sal vlot voorloop soos beplan en dat almal dit terdeë sal geniet.
'We bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'