SPORTNUUS - Willowmore se Blue Ferns-netbalklub het na die tweede ronde van die Twizza-liga deurgedring nadat hulle tweede in hul poel in die eerste ronde geëindig het.
Hulle het ook in die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit- liga gespeel en na die tweede ronde deurgedring. Dit is 'n noemenswaardige prestasie omdat dit die eerste keer is wat hierdie netbalklub ligawedstryde speel.
Blue Ferns het ongelukkig nie na die volgende rondte deurgedring nie. Graaff-Reinet se Central- en Birds United-spanne is aangewys as die top twee spanne wat na die volgende rondte deurdring.
Die Blue Ferns-netbalklub is vanjaar op 20 Maart gestig en bestaan tans uit 38 lede, insluitend bestuurslede. Die klub is geaffilieer by die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit asook by die Sarah Baartman-distrik netbalassosiasie.
"Die klub is gestig om gesonde netbal te bevorder en jong spelers te bemagtig met die nodige tegnieke om professionele spelers te word," sê Levine Lewis, sekretaresse van die Blue Ferns.
"Ons hoofdoel is om ons spelers soveel moontlik blootstelling te gee sodat hulle dalk eendag op nasionale vlak kan speel." Die Blue Ferns fokus ook daarop om 'n positiewe verskil in die gemeenskap te maak. Hulle wil graag misdaad en dwelmmisbruik in die gemeenskap verminder en glo dat dit deur middel van sport gedoen kan word.
Die Blue Ferns wil ook teruggee aan die gemeenskap en daarom het hulle 'n 'operasie skoonmaak' by Laerskool Willowmore van stapel gestuur.
Hulle is positief dat hulle genoeg borge sal kry om die laerskool se sportterrein weer op standaard te bring.
Die klub se afrigters het ook aangebied om die laerskool se netbal gratis af te rig. "Skolesport in ons gemeenskap is baie agter en met hierdie poging hoop ons om dit te herstel," sê Lewis.
Die tweede rondte van die Twizza-liga het Sondag 11 Junie 2023 in Aberdeen plaasgevind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’