GRAAFF-REINET NUUS — Die gewilde twee-jaarlikse PMP Pro-Amm groeperingskiet het weer by Kaapse Poortje-skietbaan die pas afgelope Saterdag, 4 Februarie, plaasgevind toe 34 skuts mekaar die stryd om die beste groepering aangesê het.
Die kompetisie word landwyd deur PMP aangebied in samewerking met plaaslike jagtersverenigings en alle ammunisie wat gedurende die kompetisie gebruik is, word deur PMP voorsien. Wildman Hunting & Outdoor het ook by wyse van ‘n ruim borg hul steun aan die geleentheid gegee.
Ten spyte van ‘n aanvanklike sterk noordweste-wind het die skuts baie goed presteer. ‘n Totaal van 171 teikens is geskiet en altesaam 662 skote is gevuur.
Die algehele wenner van die Ope-afdeling was Johan Dorfling wat met sy .308 ‘n groepering van 11.86mm behaal het, gevolg deur Basson Kruger Jnr (.375) met sy groepering van 13.47mm en in die derde plek Coenie Lategan (.222) met sy groepering van 15mm.
Die dameswenner van die dag was Carol Cronje met ‘n groepering van 16.77mm en die beste junior was Lucas Lategan (33.37mm). Elke skut wat in sy kaliber- en of klas-afdeling die beste gevaar het, het ‘n prys ontvang.
Die volgende skietkompetisie wat SAJWV Kamdeboo aanbied is die SAJWV Streek en Presidentskiet wat op 25 Maart by Kaapse Poortje te Aberdeen sal plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'