GRAAFF-REINET KRIEKETNUUS - 'n Spanpoging en ware spangees deur die Stallions-krieketklub se elftal het gesorg dat die Stallions hul titel as Central Karoo Cricket Union (CKCU) se T20-kampioene behou.
Die eindstryd, tussen Stallions en Willow-more, is Saterdagmiddag, 11 Maart, op die Botaniese-sportveld in Graaff-Reinet gespeel.
Willowmore het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Na 10 boulbeurte het hulle egter slegs 45 lopies vir die verlies van drie paaltjies op die telbord gehad.
'n Stewige 70-lopie vennootskap het beteken dat Willowmore 'n skaflike telling van 122/9 na hul 20 boulbeurte gehad het.
Stallions-draaibouler, Francois (Sakkie) van Zyl, het gespog met vier paaltjies vir 26 lopies in sy vier boulbeurte.
Die openingskolwers van Stallions, Samuel Bantom (51 lopies met vyf grenshoue en een reuse 6) en Donny Joubert (45 onoorwonne lopies met ses grenshoue, met 'n gebreekte vinger) het doelgerig die teiken van 123 lopies gejaag.
Na 10 boulbeurte het Stallions op 88 lopies sonder verlies van 'n paaltjie gestaan en kon hulle die wenlopies na 15.5 boulbeurte aanteken, met slegs een paaltjie plat.
'n Oortuigende oorwinning met nege paaltjies staande, om die CKCU se T20 krieketreeks te wen!
Halfeindstryd
Die vorige week in die halfeindstryd het 'n pragkolfbeurt van 40 lopies deur Samuel Bantom - wat vyf grenshoue ingesluit het - en Michael Bantom se vyf paaltjies vir slegs 20 lopies in vier boulbeurte, die knoop vir die Stallions deurgehaak in hul halfeindstryd teen Steytlerville.
Stallions het die loot gewen en besluit om eerste te kolf en kon na 10 boulbeurte met 71 lopies spog.
Na hul 20 boulbeurte het die Stallions 'n stewige 158/8 aangeteken.
Steytlerville was vroeg met die rug teen die muur en het na 10 boulbeurte 56 lopies vir die verlies van vyf paaltjies op die telbord gehad. Na 15.5 boulbeurte is die besoekers almal uit vir 85 lopies.
Intussen het die beplande halfeindstryd tussen United en Willowmore 'n heel ander wending ingeneem.
Weens die ontydige heengaan van Koos Adams, 'n stoere United-speler en ondersteuner, het die bestuur van United-krieketklub besluit om ter ere van Adams, nié die halfeindstryd aan te pak nie. Willowmore is dus deur na die eindstryd, sonder dat 'n enkele bal geboul is.
Die seëvierende Stallions spog met die T20-beker.
Vorige artikel: Stallions Central Karoo Cricket Union T20-Kampioene
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'