GRAAFF-REINET NUUS — Die Graaff-Reinet Krieketklub het die pas afgelope Saterdag, 3 Februarie, teen Middelburg by die Botaniese Sportgronde in Graaff-Reinet te staan gekom.
Graaff-Reinet, wat eerste ingestuur is om te kolf, het 'n allemintige 216 lopies om die sesde paaltjie aangeteken.
Darren Fourie was Graaff-Reinet se beste kolwer met sy 83 lopies wat hy aangeteken het.
Middelburg se kolwers kon egter nie die mas opkom tydens hul kolfbeurt nie, en is hul almal uit vir slegs 46 lopies.
Bouler Leslie du Piesanie se uitstekende boulvernuf het grootliks bygedra tot Graaff-Reinet se maklike oorwinning en het hy behoorlik amok gemaak onder die Middelburg-kolwers deur sewe paaltjies te neem terwyl Dean Marais 2 paaltjies laat kantel het.
Die komende Saterdag, 10 Februare, word daar Six-A-Side wedstryde by Botanies gespeel. Enige ywerige krieketspeler wat graag sal wil deelneem kan Willie van Rensburg skakel by 083 616 1882.
Die Graaff-Reinet Krieketklub nooi al die krieketliefhebbers in Graaff-Reinet uit om die plaaslike span te ondersteun wanneer hulle op hul tuisveld speel.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'