GRAAFF-REINET NEWS — Oor die naweek van 22 en 23 September het Hoërskool Middelburg teen Hoërskool Hartswater meegeding in ‘n twee-dag krieket-toernooi te Middelburg.
Tydens Vrydag se Pro 20-wedstryd het Hartswater se MJ van Niekerk 77 lopies van 38 balle afgelewer. Middies het goed teruggeveg en het Clive Green 29 lopies van 11 balle aangeteken.
Hartswater wen die Pro 20 met 18 lopies.
Saterdag is daar ‘n 40 beurt-wedstryd tussen dié twee spanne gespeel waartydens Hartswater eerste gekolf het.
Middies se veldwerk asook hul boulwerk was puik. Elkeen bouler in die span het paaltjies gevat en haal Middies vir Hartswater almal uit vir 71 lopies na 20 boulbeurte. Middies wen met 10 paaltjies.
Asof hulle nog nie genoeg oefening gehad het nie, het die geesdriftige krieketspelers van dié twee skole na afloop van die Pro 40 ‘n verdere Six-a-Side wedstryd gespeel. Die twee spanne het vier spanne gemaak en het die spelers die verdere aksiebelaaide wedstryde baie geniet. Clive Green se span is aangewys as die wenners!
Die spelers van die toernooi is Hartswater se MJ van Niekerk en Clive Green van Middies.
Dit was ‘n heerlike krieketnaweek en die spelers hoop dat dit ‘n jaarlikse instelling tussen dié twee skole sal kan word.
Die krieketspelers van Middies en Hartswater. Foto: Edward Green
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'