KRIEKETNUUS- Heidelberg United-krieketklub se idee om die bordjies teen Telesto Ramblers te verhang het Saterdag 14 Januarie in hul tuiskragmeting in die SWD Six Gun Grill Promosie-afdeling weer geboemerang toe hulle die wedstryd met een paaltjie verloor het.
Swak kolfwerk asook ietwat lakse boul- en veldwerk het Heidelberg gekelder.
United het die loot gewen en sy kaptein, Jaques Thyse, het nie gehuiwer om te kolf nie. Dié besluit het nie vrugte afgewerp nie en hulle is vir net 112 lopies na 26.1 beurte uitgeknikker.
Pernell Conradie het probeer weerstand bied en het 27 lopies (34 balle met 4 viere en 1 ses) aangeteken.
Vir die besoekers het hul kaptein, Dean Lewis, met die bal uitgeblink en 6/29 in 8.1 beurte laat kantel. Hy is goed deur Henwico Stal (2/19) bygestaan.
Telesto Ramblers het nogtans gesukkel om die wentotaal van 113 lopies te behaal. Ekstras, 30 lopies in totaal, het die meeste tot hul totaal bygedra. Twee kolwers is uitgehardloop.
Yusuf Abrahams met 27 lopies vanaf 52 balle (2 viere) en Lewis (20 lopies vanaf 50 balle met 3 viere) was hul beste kolwers.
Vir United het Thyse (4/39 na 10 beurte) die beste met die bal gevaar.
United speel Saterdag 21 Januarie weer tuis teen hul aartsvyand, Riversdal, en sal wil vergoed vir hul nederlaag in die eerste ronde in Riverville.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'