SUID-KAAP NUUS - SWD-krieket het 'n groot finansiële inspuiting vir die komende Afrika T20-beker-kompetisie ontvang.
Smart Office Connexion het aangekondig dat hulle die hoofborg vir die span sal wees.
SWD sal reeds hierdie naweek, 25 tot 27 Augustus, in aksie wees, waar hulle op Willowmoore Park in Benoni met Oostelikes, Namibië en Westelike Provinsie sal meeding om die wenners van groep A, en die kwalifiserende posisies vir die halfeindstryde te bepaal.
"Ons het 'n lang verbintenis met SWD-krieket en is trots om betrokke te wees by 'n organisasie wat na uitnemendheid strewe. Hulle is 'n ge-respekteerde besigheidsvennoot.
"SWD het geweldige groei en goeie resultate op en van die veld getoon. Ons sien uit daarna om hul deelname aan die Afrika T20 vorentoe te neem," het Marcel de Ridder, direkteur van Smart Office Connexion gesê.
Group Editors, die uitgewers van verskeie koerante in die Suid-Kaap en omgewing, is die sekondêre borg, onder die vaandel van die Oudtshoorn Courant. EDENfm is saam met die Oudtshoorn Courant mediaborge vir die span.
Albertus Kennedy, HUB van SWD-krieket, het Maandagaand tydens die pettefunksie gesê: "Die Africa T20 Cup is die ideale geleentheid vir borge om blootstelling te kry, aangesien meeste van die wedstryde lewendig op televisie gebeeldsend sal word."
SWD-krieket se president, Rudy Claassen, het die media vennote bedank omrede hulle die SWD-krieket handelsmerk bemark. "Ek is seker julle betrokkenheid sal vir die span en spelers 'n enorme sielkundige hupstoot wees."
Die SWD-span sal aangevoer word deur die kolwer, Brendon Louw. Die Protea-speler, Dane Paterson en die Cobras se draaibalbouler George Linde, sal die span versterk.
Die hoofborge vir die SWD-krieketspan wat eerskomende naweek aan die Afrika T20-reeks gaan deelneem, saam met Albertus Kennedy (hoof uitvoerende beampte: SWD-krieket - links) en Rudy Claassen (president: SWD-krieket - regs), is Hannes Visser (Group Editors Company), Morné Pietersen (EDENfm) en Marcel de Ridder (Canon: Smart Office Connexion). INLAS: Die Oudtshoorn Courant se naam verskyn agter op die SWD-T20-krieketspan se truie.
Nuwe spelers in die span is, Obus Pienaar, Letlotlo Sesele, Daniel Sincuba en Sammy Mofokeng.
Die span is Brendon Louw (kaptein), Letlotlo Sesele, Murray Commins, Daniel Sincuba, Obus Pienaar, Hanno Kotze, Todd Walker, George Linde, Glenton Stuurman, Dane Pa-terson, Sammy Mofokeng, Justin Jordaan en Mthobeli Bangindawo.
Die SWD-wedstrydbepalings is: teen Oostelikes (Vrydag 25 Augustus om 16:30) teen Westelike Provinsie (Saterdag 26 Augustus om 09:30) teen Namibia (Sondag 27 Augustus om 09:30).
Die SWD-krieketspan wat eerskomende naweek aan die Afrika T20-reeks (groep A) in Benoni gaan deelneem is voor, van links: Lotle Sesele, Albertus Kennedy (hoof uitvoerende beampte), Brendon Louw (kaptein), Rudy Claassen (president: SWD-krieket), Andy Moles (hoofafrigter), Glenton Stuurman en Ayden Smith (fiksheidsafrigter). Agter: George Linde, Todd Walker, Murray Commins, Justin Jordaan, Daniel Sincuba, Obus Pie-naar, Hanno Kotze, Sammy Mofokeng en Marcello Piedt. Foto's: Christo Vermaak
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'