SUID-KAAP NUUS - Jean du Plessis, krieketkaptein van die SWD o.18-skolespan, is ná afloop van die Coca Cola Khaya Majola nasionale krieketweek in Bloemfontein as kaptein van die SA Jongspan aangewys.
'n Onoorwonne honderdtal vir Du Plessis (104*) in SWD se wedstryd teen Noord-Kaap het sy plek in die span verseker.
Du Plessis, 'n leerling aan Glenwood House op George, wat ook verlede jaar lid van die SA Jongspan was, het dié span aangevoer teen die SA Skolespan in die wedstryd wat tradisioneel ná afloop van die toernooi beslis is.
In dié wedstryd, wat verlede Woensdag op die Mangaung Ovaal in Bloemfontein beslis is, het die SA Skolespan maklik met 6 paaltjies koning gekraai nadat hulle die Jongspan vir slegs 85 lopies uitgeboul het. Du Plessis (19) was sy span se beste kolwer.
'n Blink toekoms word vir hom voorspel. Hy het reeds vroeër die seisoen vir die SWD se senior span in die Afrika Twintig20-reeks gespeel en hy presteer ook op die hokkieveld as lid van die SA 0.19-hokkiespan wat Australië vroeër vanjaar in 'n reeks verslaan het.
Sy jonger broer, Arnaud, was vanjaar die kaptein van die SWD o.13 skolespan.
Volgens Rudy Claassen, president van SWD-krieket, onderstreep Du Plessis se prestasie die sukses van dié unie se hoëprestasie- en ontwikkelingsprogramme. "Sedert Waldo Lategan in 2007 het SWD daarna nog elke jaar spelers in òf die SWD Skolespan òf die SWD Jongspan opgelewer. Ander provinsiale spelers wat hierdie prestasie vermag het, sluit Brendon Louw en Marcello Piedt in.
Albei spelers is tans deel van die SWD se senior provinsiale span.
Albertus Kennedy, bestuurshoof van SWD-krieket, sê daar is seker gemaak dat Du Plessis nie vir die provinsie verlore sal wees nie.
"Jean sal in 2017 'n graadkursus by die George-kampus van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit volg en hy sal ook deel wees van die 2017-inname van die SWD-krieketakademie.
'Ons bring jou die nuutste Graaff Reinet, Karoo nuus