GRAAFF REINET NUUS - Ses atlete van Graaff-Reinet het Sondag aan die uitmergelende Isuzu 70.3 Ironman-maraton in Mosselbaai deelgeneem.
Meer as 500 atlete van reg oor die wêreld het ingeskryf vir die driekampmaraton wat uithouvermoë tot die uiterste beproef.
Grant Lemke, Dave Neill, Stegmann van Zyl, Elise Steynberg, Milah de Klerk en Tanya Fourie het hulle staal tydens die kompetisie gewys.
Elise se besige sportjaar
Elise Steynberg het 'n besige jaar gehad. "Ek het die Ironman South Africa Nelson Mandelabaai in April gedoen, die Comrades in Junie, die Ironman 70.3 Durban in Junie, die World Triathlon Multisport Championships Long distance Triathlon in Australië in Augustus en Ironman Mosselbaai 70.3 verlede week. So, ek het die heel jaar voorberei," sê sy.
"Dit was my derde Mossel Bay 70.3 - beautiful but brutal! Dis 'n roete wat nie karakter toets nie, maar karakter bou. Dis elke jaar vir my 'n spesiale geleentheid en ek geniet dit baie al suffer mens so baie," sê Steynberg.
"Ek is so dankbaar vir die voorreg van elke eindstreep en sal graag nog 'n paar keer daai voorreg wil beleef! Op die oomblik het ek nog nie enige Ironman uitdagings op my kalender nie en sal volgende jaar sien hoe gaan ek voorberei, maar die Two Oceans Ultra en Comrades nommer 7 is in die beplanning," sê sy.
Dave deel ups & downs
Dave Neill sê na 'n harde jaar se voorbereiding was daar struikelblokke en uitdagings gedurende die wedren.
Hy reken dat hy nie vir beter omstandighede kon gevra het tydens sy swem nie, maar ongelukkig 'n swak tyd opgestel het, omdat daar baie swemmers op een slag was. Tydens sy fietsry het hy die eerste helfte maklik gevind, maar het meganiese probleme opgetel en moes stop om herstelwerk te doen, wat ongeveer 12 minute van sy tyd gekos het.
Die heuwelroete oppad terug was moeilik, maar omdat sy fiets nou reg was, kon hy in laer ratte teen die steiltes opry, wat sake bietjie makliker gemaak het. Neill sê die hardloop deel was moeilik soos altyd en omdat jy dieselfde 7 km-roete drie keer doen, weet jy wat vir jou voorlê na die eerste ronde en dis wanneer jy fisies en geestelik sterk moet wees.
Hy sê ook dat dit 'n baie warm dag was, maar afgesien van die klein stuikelblokke het hy dit soos almal baie geniet. Hy sê dis 'n asemrowende roete en die ondersteuning van die toeskouers maak dit een van die beste in die land.
Hy het vanjaar ook aan die Knysna Forrest Maraton deelgeneem en beplan om volgende jaar die Two Oceans aan te pak.
Plaaslike uitslae
• Grant Lemke: Solo M50-54 Bib 2206 tyd klaar 12:23:22
• Stegmann van Zyl: Solo M30-34 Bib 1123 tyd klaar 11:57:43
• Milah de Klerk: Solo odiv Bib 1123 tyd klaar 13:31:26
• Elise Steynberg: Solo F45-49 Bib 299 tyd klaar 13:49:13
• Dave Neill: Solo M55-59 Bib 2332 tyd klaar 13:58:22
• Tanya Fourie: Solo F25-29 Bib 550 tyd klaar 13:59:45
Dave Neill
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’