GRAAFF-REINET NUUS - Rentia Oosthuizen is Graaff-Reinet se eie superatleet. Sy het in Maart verlede jaar by die SASAII Open Games gekwalifiseer om aan die tweede Trisome Games in Turkye te gaan deelneem wat van 17 tot 26 Maart gaan plaasvind.
Wanneer jy die eerste keer met haar gesels, raak jy sommer dadelik baie lief vir haar. Rennie, soos almal haar noem, is die oudste dogter van René en Francois (Oosie) Oosthuizen. Sy is gebore op 5 April 1992 in Middelburg, Oos-Kaap.
Rennie is op ongeveer drie maande oud met downsindroom gediagnoseer. René sê dat haar huisdokter se raad, om Rennie "normaal" groot te maak, die beste raad is wat sy ooit ontvang het.
"Sy sal alles kan doen, dalk net bietjie stadiger," het hy gesê.
René sê dat op daardie stadium, hulle grootste uitdaging die gebrek aan inligting oor downsindroom was.
René vertel dat Rennie van kleins af baie lief was vir water en op 18 maande het sy begin stap, "nee, rondhol, ek het haar ook self op vier jarige ouderdom leer swem," sê René.
Rennie het haar laerskoolloopbaan by Karel Theron Primêr voltooi en in sport saam met hoofstroomleerders meegeding.
"Hulle het my altyd ondersteun en hande geklap as ek oor die wenstreep trap", sê sy. Die positiewe invloed het gemaak dat sy nooit opgegee het nie. "Sy is aanvaar op skool, al was sy anders," sê René.
Op 14-jarige ouderdom het sy by Lettie Fouché Skool in Bloemfontein aangesluit.
Dit is hier waar haar besondere talent ontdek is en sy 'n liefde vir atletiek en swem ontwikkel het. By Lettie Fouché neem sy aan verskeie sportgeleenthede deel en palm die een medalje na die ander in.
Sy voltooi ook die opleidingsprogram by die skool en in 2010 ontvang sy akademietoekennings vir wiskunde, taal en kultuur, koor en landsdiens asook sporttoekennings vir netbal, atletiek en swem.
Daarna keer sy terug huis toe in Middelburg en begin as assistentonderwyser by haar alma mater Karel Theron werk. In 2011 en 2012 neem sy aan die Midmar Mile swemresies deel saam met René.
Haar ouers het besef dat Rennie 'n besonderse talent het vir swem en atletiek.
Hulle begin navorsing doen oor byeenkomste waaraan downsindroomatlete kan deelneem en in 2012 neem sy aan haar eerste South African Sports Association for the Intellectually Impaired (SASAII) deel en stel 'n SA rekord in 25 m op.
Sy het al in Mexico en Kanada aan die swem-wêreldkampioenskappe en Italië en Portugal aan die atletiek-wêreldkampioenskappe gaan deelneem.
Sedertdien het sy altesaam 82 goue, 37 silwer en 29 bronsmedaljes plaaslik vir atletiek en swem verower.
In 2016 neem sy aan die 10 km Windpomp Run in Graaff-Reinet deel en stel 'n wêreldrekord op waarvan sy vandag nog die houer is.
Rennie sê dat sy nie altyd gewen het nie, maar dat harde werk en die beste gebruik maak van elke geleentheid wat jou gegee word 'n verskil maak. "Doen jou bes en God doen die res," is haar raad.
By die Trisome Games in Turkye beoog Rennie om aan die volgende sportkodes deel te neem: 50 m-borsslag, 200 m-Individual Medley 200 m-aflos, 200 m-atletiek, verspring, gewigstoot, 800 m-stap, triathlon en spiesgooi.
Tans is Rennie besig om geld vir die geleentheid in te samel en ook om hard te oefen, om weer met 'n paar goues vir Suid-Afrika en Graaff-Reinet huis toe te kom.
Rennie het al baie harte gesteel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’