GRAAFF-REINET NUUS — Die Graaff-Reinet Running Club het verlede Woensdagaand, 29 November, die atlete wat gedurende die afgelope seisoen uitnemend presteer het, by die Botaniese Sportklub vereer.
Die hoogtepunt van die geleentheid was die oorhandiging van die trofeë.
Elise Steynberg is as die beste dames-atleet aangewys, terwyl die eer onder die mans aan Eric Foendien gegaan het.
Die atleet wat die meeste kilometers oor die pas afgelope jaar met padwedlope kafgedraf het was Elise Steynberg. Steynberg is ook vereer as die atleet wat eerste onder die klub se dames by die Comrades, sowel as by die Two Oceans, geëindig het.
Eric Foendien is as die mans-atleet wat eerste onder klublede by die Comrades en Two Oceans oor die wenstreep getrap het, vereer.
Elise Steynberg en Alet Liebeberg deel dan die trofee vir die eerste dame oor die wenstreep van die Windpomp Run terwyl daardie eer aan Jan Fick gaan onder die mans.
Chade Bowles is die trotse nuwe eienaar van die Skilpad-trofee, terwyl Lötter van Niekerk as die 'Beste Opkomende Atleet', Andre van Rooyen as die 'Atleet met die Beste Sportmansgees', Malinda Piek as die 'Getrouste Atleet by Klubruns' en Stefan Steynberg as die 'Runners' Runner of the Year' aangewys is.
Eric Foendien is as die Graaff-Reinet Running Club se beste mans-atleet aangewys. Hier verskyn hy saam met mede-atleet Elise Steynberg en Rozelle Köhne.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'