CRADOCK NUUS - "Ons was die afgelope naweek besonder bevoorreg om 12 laerskole en voorbereidingskole tydens ons jaarlikse Johnny Joubert-sportdag te ontvang," vertel Deznay Britz, sportorganiseerder van Cradock Voorbereidingskool.
"Dié byeenkoms is jaarliks 'n hoogtepunt op ons sportkalender. Wyle Johnny Joubert was skoolhoof by Cradock Voorbereidingskool en dié byeenkoms, wat sy naam dra, word reeds sedert 2010 by dié skool aangebied. Ouers, personeel en leerders het ook 100% bygedra tot die sukses van die dag."
Volgens haar word geen tellings van die wedstryde op rekord gehou en beskikbaar gestel nie.
"Dié sportdag se uitsluitlike doel is om sport teen ander skole in die omgewing te beoefen en dit vir leerders 'n heerlike gebeurtenis te maak, terwyl hul rugby, netbal en hokkie speel."
Spanne wat deelgeneem het was:
- Cradock Voorbereidingskool
- JPS De Aar
- Fort Beaufort Templeton (Bedford)
- Laerskool Volkskool
- Laerskool Adelaide
- Michausdal Primêr
- Union Preparatory School
- Laerskool Hangklip
- Bedford County School
- Karel Theron
- Carinus Primary School
- Laerskool Burgersdorp
Wyle Johnny Joubert was tydens sy onderwysloopbaan betrokke by alle sportsoorte wat by Cradock Voorbereidingskool aangebied is. Die koshuis op die terrein van Cradock Voorbereidingskool, dra ook met trots sy naam.
Keer daardie doel!
Jong hokkiespelers speel hul harte uit.
'n Senter op die aanval.
Foto's: Deznay Britz
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'