SUID-KAAP NUUS - Met totale prysgeld van meer as R80 000 op die spel, beloof vanjaar se Bestmed Eden-straatmylreeks om die beste nóg te wees.
Die eerste been van die reeks word op Oudtshoorn aangebied en staan bekend as die Bestmed Klein Karoo-straatmyl. Dit vind op Saterdag 17 Desember in Baron van Reedestraat plaas met die fietsren wat om 09:00 begin en die wedlope om 10:00. Inskrywings kan van 07:00 af die oggend gedoen word.
Die prysuitdeling behoort so teen 11:00 voor Karoopot te begin.
Die tweede been op Dinsdag 20 Desember vind in George by NMMU se Saasveld-kampus plaas en staan as die Bestmed Nelson Mandela Metropool-straatmyl bekend.
Dit begin 10:00 en inskrywings kan nog van 08:00 af gedoen word. Die prysuitdeling vind om 11:00 by die rugbypawiljoen plaas.
Die derde been is op 22 Desember in Hartenbos plaas as en staan nou as die Bestmed ATKV-straatmyl bekend.
Dit begin om 08:30 en inskrywings kan vanaf 07:00 gedoen word. Inskrywings vir die gesins-pretwedloop word die oggend van die wedloop gedoen. Dié wedloop vind om 09:15 plaas. Die prysuitdeling is om 11:00 by die amfiteater.
Van Suid-Afrika se topmansatlete wat aangedui het dat hulle gaan deelneem, is Dumisane Hlaselo, Elroy Gelant (Rio Olimpiese finalis), Amos Nyongo van Transnet Port Elizabeth, wat verlede jaar Johan Cronjé se roeterekord gebreek het, Jerry Motsau van die Pukke, 'n vorige wenner van die Klein Karoo-straatmyl, Dullan Solomons, Thabang Matiwane, Henry Makane (UJ), Thandi Sehohle (UJ), Keso Molotsane (Kovsies) en Godfrey Mothapo (Tembisa AC).
Johan Cronjé, jare lange ambassadeur van die straatmylreeks, herstel na 'n operasie en gaan nie deelneem nie. Hy sal wel die straatmylreeks kom dophou.
Onder die vroueatlete is Simoney Weitsz (KPMG), verlede jaar se reekswenners, Chantel de Lange vanuit Nederland, Leanda du Bruyn (Kalifornië), Icarien van Deventer (Tygerberg), Amy Abrahams (UWK), Anneline Roffey (FNB Multisport) en Kesa Molotsane (Kovsies).
Anuscha Nice, 'n vorige wenner, herstel ook van 'n besering en sal nie deelneem nie.
Van die klubs en oefengroepe het Kovsies, Pukke, FNB Multisport, Endurocad van Elana Meyer, Willie Engelbrecht se Zwarries-groep, Norman Ontong se Fit2Run-groep uit Worcester, Riversdal SuperKids en Cecil Roffe se groep, ook laat weet dat hulle gaan deelneem.
Vanjaar se "nuutjies," wat deel van die program vorm, is die myl-fietsren as deel van die Bestmed Klein Karoo-straatmyl op Oudtshoorn en die gesinswedloop wat deel is van die Bestmed ATKV-straatmyl op Hartenbos.
Volgens Corné Bence, voorsitter van Eden- en Wes-Kaap-fietsry, word beoog om die fietsren volgende jaar uit te brei en moontlik ook 'n kermesse in te bring.
Een van die land se beste vrouefietsryers, Anriette Schoeman, het aangedui dat sy kom ry. Van Suid-Afrika se beste junior en elite fietsryers het ook alreeds aangedui dat hulle in Oudtshoorn in aksie sal wees.
Sasja la Grange, Bestmed se bemarking- en kommunikasiebestuurder. het aangekondig dat die SA Olimpiese atleet LJ van Zyl en sy vrou, Irvette, ook 'n gerekende langafstandatleet, 'n uitdaagwedloop in Hartenbos gaan hou.
Vir enige navrae kontak Hans van der Veen op 083 462 0477 of Dave van der Walt op 0827734901.
Inskrywings kan ook aanlyn gedoen word op www.edenmiles.co.za
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'