GRAAFF-REINET NUUS — Laatmiddag dié eerskomende Vrydag, 2 Junie, bied die Graaff-Reinet Running Club weer eens hul pret neon-straatmyl aan.
Na verlede jaar se wegholsukses sien die organiseerders voorwaar uit na die jaar se geleentheid en word daar gehoop dat 2017 se getal deelnemers, in vergelyking met verlede jaar, 'n groot aantal meer sal wees.
Alle belangstellendes word dus genooi om hul vriende en familie saam te sleep en om Vrydagaand voor Burger Inn in Kollegeweg te vergader waar registrasie vir die wedloop vanaf 5nm sal geskied. Hier sal bekende plaaslike fotograaf Jac Grobbelaar weer eens 'n fotohoekie beman.
Almal word uitgedaag om by die neontema in te skakel deur hulself in al wat ‘n denkbare kleur en neon paraphernalia is, aan te trek. Neon bykomstighede sal ook voor die aanvang van die wedloop te koop wees.
Die 1.6km straatmyl - wat om 6nm sal afskop - sal strek vanaf Burger Inn tot voor die Polka-restaurant in Somersetstraat.
• Na afloop van die myl, sal daar by Polka pannekoek en ander lekkernye ten bate van Huis van de Graaff te koop wees.
Diegene wat meer inligting verlang kan Graaff-Reinet Running Club-voorsitter Rozelle Köhne skakel by 049 891 0825.
Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus