NASIONALE NUUS - Die splinternuwe ATKV Hartenbos-seefrontontwikkeling was tydens die amptelike opening op Woensdag, 7 Desember, 'n miernes van bedrywighede.
Tuinroete inwoners- en besoekers kan voortaan die R150 miljoen-projek, wat in verskillende fases afgehandel word, daagliks benut.
Volgens die sentrumbestuurder, Adrie van Dyk, was die grootste deel van die kleinhandelgeriewe van die eerste fase op Woensdag gereed. Dit sluit winkels en eetplekke soos Ocean Basket, De Oude Meul-koffiewinkel en -bakkery en Mrs Fish in.
Tydens die amptelike opening was die grootste trekpleister beslis die waterwurm en 'n waterglybaan wat krioel het van jillende besoekers.
Daar is ook 'n verhitte onderdakswembad wat opgeknap word, 'n nuwe moderne gimnasium en saans 'n skoffelskuur en mini-amfiteater vir diegene wat graag die naglewe opsoek. Kinders kan op 'n massiewe klimraam speel en daar is ook piekniekplekke.
'n Ateljee van waar 'n plaaslike radiostasie gaan uitsaai, is ook op die terrein.
Woensdag het Mosselbaai se uitvoerende onderburgemeester, raadslid Dirk Kotzé die nuwe sentrum seremonieel geopen terwyl die bekende Lizz Meiring as seremoniemeester opgetree het.
Die opening is later die aand met 'n vuurwerkvertoning afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'