OPINIE - Soos alle wêreldmoonthede sál Amerika uiteindelik tot ‘n val kom. En Indië se eersteminister, Narenda Modi, staan kop en skouers bo sy eweknieë uit.
Joe Sinovich, ‘n deurwinterde seeman en strateeg, het kort voor die vredesonderhandelinge tussen die VSA en Iran gesneuwel het, sy kennis van wêreldpolitiek met die lede van die Agulhas Erfenis- en die Bewaringsvereniging gedeel.
Sy voorlegging - Die wêreld in wanorde - Quo Vadis? - het die gehoor in die L’Agulhas-gemeenskapsaal deurgaans vasgenael gehou.
Hierdie afgetrede skout-admiraal is 'n Suid-Afrikaner in murg en been - uitheemse Kroasiese van en al - en waarsku dat dit wys sou wees wees om jouself te verskans teen wêreldgebeure soos die ineenstorting van empires wat internasionaal kataklismiese gevolge kan inhou.
Afkomstig van Knysna, het hy in die 1980s by die vloot aangesluit en ‘n ongeëwenaarde loopbaan vir homself uitgekerf.
Sinovich het op sy dag aan die wêreldbekende militêre akademie op die US Naval War College in Newport, Rhode Island studeer, waar hy keuringsprosesse moes evalueer om te bepaal watter individue oor die kaliber beskik om as generaal of admiraal binne die Amerikaanse stelsel te kwalifiseer.
Hy is ‘n militaris wat in oorlogvoering ter see gespesialiseer het en was ook Suid-Afrika se militêre attaché in Duitsland en Tsjeggië.
Twee gesoute seevaarders, meester-marinier Brendon Owen-Hadley (links) en die gasspreker, afgetrede skoutadmiraal Joe Sinovich, in gesprek. Beide het afgetree op die suidpunt van Afrika.
Hy projekteer ‘n dramatiese aktuele teater van die VSA/Iranese oorlog teen die agtergrond van wêreldgeskiedenis soos dit byvoorbeeld afgespeel het in die dae van Athene en Sparta in antieke Griekeland.
Hul kulturele verskille is goed bekend. Insgelyks word mag versus geregtigheid en moraliteit opgestel. Mag kan berus op militêre of ekonomiese gravitas.
Sinovich plaas twee hoofspelers sentraal op die internasionale verhoog: Sjina en die VSA.
Oor Sjina onthul hy dat dit onwaar is dat die Sjinese ongelukkig is met hul huidige bestel. "Hulle verkies eintlik ‘n outoritêre regime."
Hy is nie bang om die VSA te kritiseer nie. "‘n Demokrasie waarborg nie noodwendig moraliteit nie. Donald Trump sê hy wil die seestraat van Hormuz oopmaak, maar die straat wás oop voor hy Iran aangeval het!"
Met verreikende gevolge.
"Hierdie oorlog is nie net tussen Amerika en Iran nie, maar tussen ‘n Christenland en ‘n Moslemstaat. Jy kan nie die Moslemwêreld met Christelike waardes meet nie."
Hy trek voorts ‘n parallel tussen Suid-Afrika pre-1994 en Iran. "Suid-Afrika was geïsoleerd maar het desondanks ‘n formidabele wapenarsenaal opgebou met tegnologie soos die G-5 kanon en die Rooivalk-aanvalshelikopter.
"Iran vervaardig op ‘n groot skaal hommeltuie en is in staat om sy aartsvyand, Israel, met lang- en middelafstandmissiele te bestook, ondanks Trump se gespog dat hy die Iranese vloot en lugmag vergruis het."
Iran slaag ook daarin om die straat van Hormuz met seemyne en ander wapens in ‘n knyptang te hou, al druis dit in teen Internasionale maritieme wetgewing.
Dit is juis oorlogvoering oor lang afstande met hommeltye en bomme wat hedendaagse oorlogvoering verontmenslik.
Danie Schutte aan die woord tydens die eerste vergadering van die Erfenisvereniging en die Bewarings-vereniging sedert hul samesmelting. Regs is die voormalige voorsitter ds. Kobus Pretorius en links is Sinovich.
Een van Sinovich se hoekstene is dat magsbehoud deur die eeue heen wissel.
"Daar was nog nooit ‘n supermoontheid wat oorleef het nie."
Die supermoonthede met hul strategie van besetting en oorheersing het die een na die ander tot ‘n val gekom - van die Babeloniërs tot die Romeine. Alexander en die Helleniste. Brittanje en Frankryk. Die Nederlanders met hul magtige handelsvloot wat deur die VOC die eerste aandelebeurs gevestig het.
"Net so sal Amerika tot ‘n val kom, maar nie in my leeftyd nie. Militêr kan niemand tans by Amerika kers vashou nie.
"‘n Vliegdekskip soos die USS Abraham Lincoln genoem, kan maande lank onafhanklik op see funsioneer. Die 'Abe', ‘n drywende stad, het meer as 5 000 seelui, offisiere, tegnici, vegvlieëniers, bystandspersoneel en kokke aanboord - en hulle moet drie keer 'n dag kos kry!
"Met die hulp van sy bondgenote - met of sonder direkte hulp van Navo - kan die VSA nog lank sy status as supermoondheid behou. Hierin speel die oorheersing van die dollar ‘n kritieke rol.
"Onthou, die Amerikaanse staat Kalifornië alleen het die vierde grootste ekonomie op aarde - groter as die van die Verenigde Koninkryk of Japan!"
Hy sê die Midde-Ooste is ‘n kookpot waar olie, dogma en ideologie alle beleidsrigtinge bepaal en geweld telkens na die oppervlak borrel.
Voor sy aanslag op Iran het die VSA reeds bepaalde stategiese skuiwe gemaak, veral deur van sy vlootskepe nader na die potensiële brandpunt te skuif.
Die USS Tripoli - ‘n Amerika-klas amfibiese aanvalsvaartuig - is juis van sy posisie in die Indiese Oseaan geskuif om die US Central Command in die Midde-Ooste te versterk. Aan boord is 3 500 seelui en soldate, of te wel marines.
Die VSA kan hierdie seesoldate gebruik as en wanneer hy besluit om grondmagte in te span om strategiese doelwitte te bereik - die enigste manier wat die VSA 'n kans staan om vordering in die konflik te maak, maar met gepaardgaande lewensverlies en groot teenkanting.
Oor die toestand van Suid-Afrika se weermag sê Sinovich dat korrupsie ‘n groot rol gespeel het in die aftakeling daarvan, maar dit was nie die enigste rede nie. "Veranderde marktoestande en skommelinge in die dinamika wat vraag en aanbod dryf het ook ‘n rol gespeel."
In terme van gebiedswaters, het Suid-Afrika die derdelangste soek-en-red-kuslyn ter wêreld, na die VSA en Australië. "Ons het enorme uitdagings op hierdie gebied."
Meester-marinier Brendon Owen-Hadley en ds. George Conradie (regs) luister aandagtig na Sinovich.
Sinovich se sleutelinsigte:
- Wanneer ‘n supermoontheid tot ‘n val kom, skuif daar dadelik weer een in sy plek.
- Die president van die VSA het nie die kongres se goedkeuring nodig om ‘n knoppie te druk om ‘n kernaanval te ontketen nie.
- In Jemen is die Houthis ‘n X-faktor en kan hulle moontlik toegang tot die Rooi See in die Golf van Aden (Straat van Bab-el Mandeb) blokkeer wat verdere ontwrigting op wêreldmarkte kan veroorsaak.
- VSA kan daarvan vergeet om Iran militêr te verower sonder stewels op die grond. Dit beteken ‘n aanlandige inval, wat vanselfsprekend meer lewensverlies sal meebring. In so ‘n geval sal Trump binnelands onder groot druk verkeer, veral vanuit Demokratiese geledere.
- VSA en Israel se verhoudinge is ineengestrengel en word grootliks bepaal die invloedryke Joodse lobby in Amerika, waar die volgende leier ná Trump straks een van drie sal wees: Marco Rubio, JD Vance of Gavin Newsom.
- Israel wil alle moontlike munt slaan uit Donald Trump se presidentskap terwyl hy nog aan bewind is en Iran slaan met alles tot sy beskikking omdat Iran Israel geen bestaansreg gun nie.
- Israel onder Benjamin Netanyahu wil sy grondgebied vergroot deur die Wesoewer ongekwalifiseerd en onbetwis syne te maak.
- Terselfdertyd wil hy Hezbollah (gerugsteun deur Iran) in Suid-Libanon uitskakel, waarskynlik deur die skep van ‘n bufferstrook noord van Metullah op die grens.
- Argentinië, aangevuur deur President Javier Milei, benut die huidige wêreldchaos om weer sy rug te begin styf maak oor die betwiste Falklands of Las Malvinas.
- Daar is altyd ‘n wisselwerking tussen politiek, akademie en die militêre milieu. ‘n Plaaslike voorbeeld is die verhouding tussen Stellenbosch Universiteit met sy bepaalde uitgangspunt soos vergestalt deur die Fakulteit van Militêre Wetenskap, en die Suid-Afrikanse Militêre Akademie op Saldanha.
- Die oseane bly steeds die wêreld se grootste en belangrikse handelsweg waar skeepsvragte olie en ander noodsaaklike middelle in grootmaat vervoer kan word.
- ‘n Toekomstige wêreldorde kan volgens drie scenarios uitspeel: óf ‘n multi-laterale wêreldorde, óf ‘n multi-polêre wêreldorde, óf ‘n bi-polêre wêreldorde. Laasgenoemde bestel sal dan deur VSA en Sjina oorheers word, maar Indië sien sy eie styging in internasionale aansien en die groei van die Globale Suide se belang reeds as bewys dat 'n multi-polêre wêreld aan die orde van die dag is.
En laastens:
Ware staatsmanne is dun gesaai op hierdie planeet.
Maar vir Joe Sinovich is daar een wat kop en skouers bo sy eweknieë uitstaan en dit is Indië se Narenda Modi.
"Onder sy leierskap het Indië homself as die slimste speler op die wêreldverhoog geposisioneer."
Modi, ook baie gewild in sy eie land, bou voortdurend sterk verhoudings met ander groot moondhede en het sy land posisioneer as die leier van die Globale Suide.
Hy dwing internasionaal respek af en het al 25 eerbewyse van talle lande ontvang.
NB: Ten tye van publikasie van hierdie artikel op 23 April 2026, was die vyandighede tussen die VSA en Iran steeds in volle swang met wedersydse aanvalle op vragskepe in die Straat van Hormuz.
Die skrywer van die artikel, Pierre Massyn, is ‘n voormalige TV joernalis en oud-bemanningslid van die gesonke SAS President Kruger. Hy het kontakte dwarsoor die wêreld en is op sy gelukkigste op die mees suidelike punt van Afrika.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’