NASIONALE NUUS - AfriForum se Eden-protospangilde is op 15 November tydens ’n byeenkoms gestig waar die organisasie se protospanlede in die streek vir die eerste keer amptelik saam geoefen het.
Lede van die Mosselbaai-, George- en Knysna-takke het die dag bygewoon.
Die protospangildes bestaan uit buurtwaglede wat AfriForum se gevorderde reaksiekursus, oftewel protospankursus, voltooi het.
Die doel van dié gilde is om aan protospanlede ’n gestruktureerde ruimte te bied waar hulle op ’n gereelde basis kan oefen, hul paraatheid kan verskerp en verdere vaardighede kan ontwikkel.
Dit skep terselfdertyd ’n sterk ondersteuningsnetwerk wat samewerking, kommunikasie en wedersydse ondersteuning bevorder.
“Hierdie gilde is ’n belangrike mylpaal vir die Eden-steunkring,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
“Deurlopende opleiding en samewerking is noodsaaklik om ons gemeenskappe doeltreffend te beskerm. Ons sien uit na die groei van die gilde en die positiewe impak wat dit op veiligheid in die streek sal hê.”
Deurlopende opleiding en inoefening is deel van AfriForum se groter strategie om gemeenskappe weerbaar en selfstandig te maak. As jy belangstel om in te skakel en deel te vorm van AfriForum se protospanne, kontak vandag jou naaste tak en raak betrokke.
Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’