MOTORING NEWS - Gesamentlike ondernemings, samesmeltings, verkrygings en vennootskappe oor verskillende handelsname – dit is die dryfkragte van ’n immer toenemende wêreldmark.
Die voertuigsektor is geen vreemdeling op hierdie gebied nie, aangesien vennootskappe al dekades lank bestaan en voertuie (en hul komponente) word deesdae reg oor die wêreld gebou. Voertuigvervaardigers moet egter as gevolg van ’n steeds groeiende mark, meer veeleisende klante en ekonomiese emansipasie toenemend aanpas en innoveer.
Toyota en Suzuki het op 28 Augustus 2019 al ’n formele alliansie tussen dié twee maatskappye aangekondig om mekaar se sterk punte te benut ten einde in die ontwikkelende wêreldwye voertuigmark mee te ding. Toyota se kundigheid in hibriedtegnologie en outonome bestuur het Suzuki bevoordeel, terwyl Toyota toegang tot kompakte voertuie, ’n Suzuki-sterkte, verkry het.
’n Alliansie wat wedersyds voordelig is, is gebore.
Die Toyota Starlet
Die eerste produk wat uit hierdie handelsmerkalliansie gekom en ons oewers bereik het, is die Toyota Starlet. Die Starlet-naam dateer uit 1973, en versier Toyota se sub-kompakte luikrug al vyf geslagte lank in die Japannese binnelandse mark (eindig in 1999). Die nuweling, wat trots aan die etos bly om ’n kompakte, doeltreffende en waarde-gefokusde produk te wees, laat die Starlet-kenteken trots herleef.
Posisionering
Die sub-B-segment is die tweede grootste deel van passasiersvoertuigverkope in Suid-Afrika en is ’n sterk mededingende segment. Die Starlet vervang die Etios in Toyota se reeks, wat ’n gemiddelde aandeel van 22% van die sub-B-segment oor sy lewensduur behaal het.
Die Starlet bou voort op die kernpunte van die Etios – goeie verrigting, brandstofdoeltreffendheid en ’n bekostigbare prys – en versterk die produkaanbod met ’n moderne ontwerp buite, ruim kajuit en meer en verbeterde toerusting.
Moderne buitekant
Die buite-ontwerp volg ’n klassieke luikrugprofiel, met ’n kort, afwaartse skuins neus en geronde agterluik. ’n V-vormige sierrooster (in Toyota-spesifieke afwerking) met ’n Toyota-kenteken in die middel, word deur twee vertikale kopligte met chroominsetsels verbind. Die trapesiumvormige onderste lugskort het gestileerde mislighulse aan weerskante (indien aangebring).
Van die kant gesiem het die motor voulyne bo en onder wat die kontoer volg en ’n gevoel van beweging skep, aangevul deur kleurgepaste deurspieëls. Uitgeboude wielboë gee die Starlet ’n vasvoetige houding.
Die agterkantontwerp sentreer rondom die groot ligdiode-stertligte met rooi en deurskynende hoogtepunte. Die onderste buffergedeelte pronk met ’n stylvolle chroomversierstrook en ’n trapesiumvormige keep in die buffer. Die algehele resultaat is ’n harmonieuse aantreklike ontwerp.
Binneruim-ontwerp
Die binne-uitleg gee voorkeur aan ruimtelikheid en ergonomie sonder om flair in te boet. Die middelste afhang-gedeelte van die paneelbord groepeer die ventilasie-, inligtingvermaak- en klimaatbeheerstelsels netjies. Kontoerlyne skep ’n gevoel van eenstemmigheid met die buite-ontwerp. Die bestuurder word begroet deur ’n helder en maklik leesbare instrumentehuisie met ’n veelinligtingskerm (MID) en dubbele analoogmeters.
’n Dik driespeek-stuurwiel huisves stuurskakelaars en spoedbeheer (waar toegerus).
Onderstel
Die grondslag van die Starlet is Suzuki se TECT-platform, wat hoësterkte staal in kritieke gebiede sowel as energie-absorberende kanale gebruik om ’n sterk, veilige en ligte onderstel te bewerkstellig. ’n Tradisionele McPhersonstut-voorvering en ’n wringbalk-agteras word ingespan. Die uitleg van die wringbalk bied verbeterde verpakking en dra tot die ruimheid van die Starlet by.
Die Xi-model is toegerus met 15”-staalwiele met 175-65R15-bande en ’n ruimtebesparende noodwiel. Die X- en Xr-variante het stylvolle turbine-vormige 16”-allooisierwiele met 185-55R16-bande.
Enjin en verrigting
Die Starlet gebruik ’n dubbelbonokas-viersilinderenjin van 1.4 liter met veranderlike kleptydreëling (VVT) en ’n tuimelvloei-inlaatspruitstuk, wat ’n hoëtoere-karakter bied en ligte werk van daaglikse pendel maak. Kraglewering word op 68kW @ 6000 r/min met 130Nm wringkrag @ 4200 r/min vasgestel.
Twee ratkaskeuses is beskikbaar – ’n vyfgang-handrat en ’n outomatiese viergangtransmissie, wat die voorwiele aandryf. Die verpligte 0-100 km/h-versnelling word in 10,9 sekondes (handrat) en 11,6 sekondes (outomaties) afgelê.
Lae brandstofverbruik is ’n belangrike kenmerk, en kom op tussen 5,1 en 5,4 l/100 km te staan, wat ’n reikafstand van meer as 700 km op ’n vol tenk van 37 liter bied.
Sleepvermoë is 400 kg vir ’n remlose sleepwa en 1 000 kg vir een met remme.
Gradering en toerusting
’n Driegraderingstrategie word ingespan met die bekende Xi-, X- en Xr-simbole wat in Toyota se ander reeks passasiersmotors gebruik word. Ondanks die feit dat dit die intreevlakmodel vir die Starlet-reeks is, is die Xi-model mildelik toegerus, met lugversorging, elektriese kragstuur, dubbele 12 V-kragpunte, elektries beheerde vensters, kantelverstelbare stuurkolom, 60/40-verdeelde agtersitplekke, elektries verstelbare deurspieëls en afstandbeheerde sentrale sluiting. Die Xs-model voeg allooiwiele by die ensemble.
Die vlagskip Xr-modelle ontvang die volledige pakket, bestaande uit chroomdeurhandvatsels en sykantvormstukke, privaatheidsglas agter, misligte aan die voorkant, ligdiode-projektorkopligte met dagryligte (DRL), rigtingwysers in die deurspieëls en ’n lugskort op die dak. Aan die binnekant word die spesifikasievlak verhoog met behulp van ’n digitale spoedmeter met ’n volkleurskerm, leerstuurwiel met teleskopiese verstelling, parkeerafstandbeheer (PDC), truratkamera, klimaatbeheer en ’n aansitterknop. Spoedbeheer, wat deur middel van skakelaars op die stuurwiel beheer word, is deel van die pakket.
Klank- en inligtingvermaakstelsel
Die Xi- en Xs-modelle het ’n dubbel-DIN-klankstelsel met CD-, Bluetooth-, USB- en AUX-werking wat deur ses luidsprekers gespeel kan word.
Die Xr-modelle het ’n toerustingryke raakskerm-klankstelsel met Android Auto- en Apple CarPlay-integrasie vir navigasie-, telefonie- en musiekstroomdienste. Tradisionele USB-, Bluetooth- en MP3-/AUX-versoenbaarheid is steeds beskikbaar, wat die gebruiker ’n wye verskeidenheid vermaakbronne in die voertuig bied. Truratkameramonitering is ook in die stelsel ingebou.
Alle Starlet-modelle is toegerus met die Toyota Connect-telematika-stelsel wat ’n WiFi-hotspot in die motor en komplimentêre 15 GB-data bevat. Nadat klante aan hul profiel gekoppel is, kan hulle die voertuig via die MyToyota-app beheer. Hierdie intuïtiewe app maak diensbesprekings, voertuiginligting en -geskiedenis, voertuigopsporingdata, Toyota Connect-dataherlaaidienste en nog baie meer moontlik.
Veiligheid en sekerheid
Al die Starlet-modelle is ruim toegerus met veiligheids- en sekerheidstoerusting wat aktiewe elektroniese hulpmiddels soos sluitwerende remme (ABS), elektroniese remkragverdeling (EBD), remhulp (BA) en voertuigstabiliteitsbeheer (VSC) insluit. Die modelle met ’n outomatiese transmissie het ook opdraandebeheer (HAC).
Die Xi- en Xs-modelle is toegerus met lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, terwyl die Xr-variante ook lugsakgordyne en kantlugsakke het. Twee ISOFIX-punte en ’n sekuriteitstelsel word deur die bank voorsien.
Modelreeks en pryse:
Starlet 1.4 Xi (handrat) – R204 900
Starlet 1.4 Xs (handrat) – R215 200
Starlet 1.4 Xs (outo) – R235 700
Starlet 1.4 Xr (handrat) – R258 500
Starlet 1.4 Xr (outo) – R272 500
Waarborg en instandhouding
Al die Starlet-modelle word met 'n diensplan van 45 km vir drie dienste met dienstussenposes van 15 000 km verkoop. ’n Waarborg van drie jaar/100 000 km word ook voorsien. Klante kan ’n bykomende diensplan en waarborguitbreidings by hul plaaslike Toyota-handelaar koop en voordeel trek uit die grootste handelaarsnetwerk in die land (meer as 220).