MOTORING NEWS - Toyota se verkope het in Julie die eerste keer vanjaar die 12 000-kerf verbygesteek toe sy verkope vir die jaar tot nou op 77 099 eenhede te staan gekom het. Dit plaas die handelsnaam stewig bo aan plaaslike voertuigverkope. Die altesame 12 840 eenhede wat Toyota verlede maand verkoop het, is in skerp kontras met die ekonomies onderdrukte mark nadat die brandstofprys vroeg in Julie 'n rekordhoogte bereik het.
"Ons is baie tevrede met ons Julie-verkope, en dit is weer as gevolg van 'n gekonsolideerde poging deur ons Toyota-, Lexus- en Hino-handelaars, Toyota Suid-Afrika se personeel asook ons klante," sê Calvyn Hamman, senior vise-president van verkope en bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors.
"Hoewel ons verkope van goed oor die 12 000 eenhede 'n prestasie in eie reg is, getuig die feit dat ons dit in sulke moeilike ekonomiese tye behaal het, hoe veerkragtig die Suid-Afrikaanse mark is.
Passasiersvoertuigverkope het op 7 348 eenhede te staan gekom, 'n noemenswaardige styging van 1 455 eenhede teenoor Junie
(5 893). Stewige sportnutsverkope deur die
segmentleiers die Fortuner (1 006) en RAV4 (949) sowel as die nuwe model, die Rush (494), het aansienlik tot die afdeling vir passasiersvoertuie bygedra. Toyota se luukse sportnutse, die Prado en die Land Cruiser 200, het onderskeidelik 84 en 85 verkope gehaal terwyl die nismodel-sportnutse, die Lexus NX (25), RX (10) en LX (16) steeds goed vaar.
Tradisionele passasiersmotors nie, waaronder die Corolla Quest (1 405), Yaris (974) en Etios (830), het ook stewige kleims afgesteek het om Toyota in Julie los voor te plaas.
Hilux, die topverkoper in die afdeling vir ligte handelsvoertuie (LHV), het egter die kollig gesteel deurdat dié model verlede maand meer nuwe tuistes as enige ander model in Suid-Afrika gevind het.
Die Hilux, waarvan altesame 3 373 eenhede van die hand gesit is, het meer as die helfte van Toyota-verkope in die LHV-segment aangeteken. Die Quantum met 1 460 eenhede asook die Land Cruiser-bakkie met 238 eenhede het ook sterk vertoon.
Hilux is verreweg Suid-Afrika se topverkopervoertuig vir die jaar sover en het altesame 23 215 verkope aangeteken terwyl sy naaste teenstander 5 637 eenhede minder verkoop het.
Wat vragmotors betref, het die Hino 300-Reeks weer 'n fris vertoning in die afdeling vir medium handelsvoertuie (MHV) met 'n markaandeel van 24,7% gehad, terwyl die Hino 500 die maand met 'n markaandeel van 18,6% in die afdeling vir swaar handelsvoertuie (SHV) afgesluit het.
"Ons is met 'n algehele markaandeel van 26,8% in Julie werklik trots op ons handelaarnetwerk en kan hulle net aanmoedig om voort te gaan om glimlagte op die gesig van klante te sit en nie selfvoldaan agteroor te sit nie.
"Die bekendstelling van nuwe waarde-vir-geld-voertuie soos die Rush kan net goeie dinge vir die stagnerende plaaslike ekonomie inhou. Ons is bly dat kopers dié nuweling met ope arms ontvang het aangesien digby 500 eenhede van die Rush in sy eerste maand van die hand gesit is," sê Hamman.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'