GEORGE NUUS - Die 23ste George Oumotorskou, wat ondersteun word deur Oakhurst Versekeringsmaatskappy, vind op Saterdag en Sondag, 9 en 10 Februarie plaas en fokus op skaars en eksotiese voertuie.
Robert Middelman van Botrivier besit 'n Everitt, Metzger & Flanders oftewel EMF, wat in 1912 in Detroit, VSA vervaardig is. Die voertuig is een van 'n aantal baie skaars voertuie wat tydens die 2019 George Oumotorskou uitgestal sal word.
Die Amerikaanse EMF-maatskappy het tussen 1909 en 1912 voertuie vervaardig. Drie vennote – Barney Everitt, 'n bakbouer van Detroit, William Metzger, voorheen van Cadillac, en Walter Flanders, Henry Ford se vervaardigingsbestuurder het kragte saamgesnoer in die maatskappy se kortstondige bestaan.
"Ons voertuig het aan wyle Angus Kinnes, een van die stigterslede van die Crank Handle-klub in Kaapstad, behoort," vertel Richard Middelmann.
"My pa Robert het die kar in 1972 by Angus se weduwee gekoop. Die kar het destyds aan tydrenne deelgeneem, die laaste tot in 2003. Die enjin was kapot en ons het die kar met ons ou Ford-vragmotor na ons plaas by Botrivier gebring."
Volgens Richard is die EMF se enjin oorgedoen en toe êrens in 'n hoekie gebêre. Die bakwerk is van die onderstel verwyder, uitmekaar gemaak en gestoor. Die onderstel is aan die werkswinkel se dakbalke opgehys.
"Omstreeks 1998 het ek op 'n dag vir my pa gesê ons behoort die EMF aanmekaar te sit sodat ons darem 'n bruikbare veteraanmotor kon hê om mee te ry. Ons het besluit die einde van die eeu sou 'n goeie spertyd wees om minstens die enjin aan die gang te kry, al was dit net op die onderstel gemonteer. En op 31 Desember 1999 kon ons die enjin aanskakel!"
Dit het nog vyf jaar geneem om die voertuig te herbou. "Ons volgende mikpunt was om die motor teen 2003 voltooi te hê, betyds om aan die Houwhoek-tydren deel te neem – en ons het dit sowaar reggekry!"
Hulle moes nuwe bakwerk van hout bou, want die oue was heeltemal verrot. "Lang ure en baie harde werk is aan die motor bestee, maar ons was betyds klaar vir die Houwhoek-tydren."
Sedertdien het die voertuig aan talle tydrenne en skoue deelgeneem.
"My ouers het 'n paar jaar gelede die Milligan-tydren voltooi. Hulle het met die motor na die beginpunt in Oudtshoorn gery, aan die tydren deelgeneem en veilig teruggekeer – 'n rit van sowat 1 600km." Richard het die voertuig ook al talle kere by die George Oumotorskou uitgestal en het aan verskeie Veteraantoere deelgeneem.
Op 9 en 10 Februarie sal die EMF weer by die George Oumotorskou by PW Botha Kollege in Yorkstraat te sien wees.
BESPREEK VOORUIT
Toegangskaartjies is aanlyn beskikbaar by www.quicket.co.za op die Events-blad van die Suid-Kaap Oumotorklub se webtuiste www.scocc.co.za
Toegangsfooie is: Saterdag- volwassenes - R60, pensioentrekkers - R45 en kinders onder 12 - R25 Sondag: volwassenes - R25, pensioentrekkers - R20, kinders onder 12 -R15.
Naweektoegang: volwassenes - R70, pensioentrekkers - R50, kinders onder 12 R30.
Hektye: Saterdag 07:00 tot 18:00 en Sondag 08:00 tot 13:00.
Slegs voertuie wat voor 1975 vervaardig is en vooraf geregistreer is, kan by die George Oumotorskou uitgestal word. Registreer op die webtuiste www.scocc.co.za of kontak Klaus Oellrich by 076 764 0897 vir meer inligting.
Voornemende stalletjiehouers kan 'n aansoekvorm van die webblad aflaai, of kontak Mike van der Steen by 083 280 3653.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'